GEORGE NUUS - Inwoners wat op Heatherlands High se skoolterrein woon se vrese oor hul veiligheid blyk onnodig te wees.
‘n Koshuis wat omskep sal word in ‘n veldhospitaal indien George ‘n Covid-19-krisis beleef, is toe nie so naby aan hul huise soos wat hulle gedink het nie.
Inwoners het hul kommer uitgespreek na nuus oor planne vir een van die skool se koshuise vroeër vandeesweek openbaar gemaak is. Hoof van Garden Route-rampbestuur, Gerhard Otto, het bekend gemaak dat ‘n koshuis van Heatherlands High geïdentifiseer en goedgekeur is om as ‘n veldhospitaal te dien, indien nodig.
Volgens ‘n inwoner, Marlene Jonkerman, is hulle nie hieroor geraadpleeg of ingelig nie, en is inwoners baie bekommerd omdat hulle so na aan een van die koshuise woon.
Waarnemende distriksdirekteur van die WKOD, Jewel Jonkers, het by navraag gesê die spesifieke koshuis ter sprake is nie die een wat tussen die inwoners geleë is nie. “Die koshuis wat geïdentifiseer is, is die een naaste aan die sportveld. Dit is tans in ongebruik,” het Jonkers gesê.
Volgens Jonkers sal hierdie opsie slegs gebruik word indien dinge “heeltemal buite beheer raak”. Hy het gesê George is tans ver daarvan af. “Dit is Opsie D,” het Jonkers gesê.
“Ons het toestemming van die Wes-Kaapse hoof van onderwys, Brian Schreuder, die waarnemende hoof van Heatherlands High, René Haupt en die voorsitter van die skool se beheerraad, Mev Booysen. Schreuder het toestemming gegee met die voorwaarde dat die koshuis afgebaken word en dat daar geen ander toegang vir mense tot die koshuis is nie.”
Volgens Jonkers is hierdie koshuis ideal, aangesien geen kinders daar gehuisves word nie. “Ons weet nie wanneer die skole weer begin nie. Dit maak sin om ‘n koshuis te gebruik word normaalweg geen kinders huisves nie.” Jonkerman het die vraag gestel hoekom koshuise van Pacaltsdorp en Carpe Diem nie vir die doel gebruk kan word nie? Volgens Jonkers is dit nie ‘n goeie opsie nie, want die koshuise huisves wel leerders wat dalk later blootgestel kan word. “Die koshuis by Heatherlands High is ook naby die George-hospitaal geleë indien hulp benodig word,” het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'