GEORGE NUUS - 'n Plaaslike politikus, Cherese Kotzé, en 'n inwoner van Blanco, Christopher Fitchet, nooi inwoners om op Saterdag 20 Mei handjie by te sit om die area by Blanco se hoofbegraafplaas in Maitlandstraat op te knap.
Belangstellendes kan om 08:30 by die begraafplaas byeenkom, toegerus met handskoene, gemaklike klere en 'n tuingraaf.
As die plaaslike verteenwoordiger van die UIM Party (United Independent Movements Party) was Kotzé koud gelaat tydens 'n onlangse besoek aan die begraafplaas in Maitlandstraat, sowel as die historiese begraafplaas in Searlestraat, waarvan sy die toestand as "haglik" beskryf.
Beide begraafplase is in wyk 26, in Blanco geleë.
"Die begraafplase word gevandaliseer en is heeltemal toegegroei. Baie min, indien enigiets, word gedoen om hierdie begraafplase op te ruim en in stand te hou, wat nog te sê dat hulle van verdere vandalisme beskerm word. Ons wil graag probeer om die voorkoms van hierdie plekke te verbeter," het Kotzé gesê.
Sy is van hierdie situasie verwittig deur Fitchet, 'n inwoner wat bekommerd is oor die toestand van die begraafplase in George. Fitchet se passie is om hierdie begraafplase vir toekomstige geslagte te dokumenteer.
"Die kleiner meer historiese begraafplaas in Searlestraat bevat grafte van inwoners wat in die 1800's gebore is. Telefoonkabels hang deur die begraafplaas en verskeie grafte is gevandaliseer," het Kotzé gesê.
"Die Maitlandstraat-begraafplaas is so toegegroei dat baie grafte skaars sigbaar is. Hier is die vernietiging van die grafte op sy ergste."
Verwaarloos.
Rusplekke is vol
Terugvoer van George-munisipaliteit bevestig dat beide Blanco-begraafplase vol is.
"Begrafnisse wat daar plaasvind, is hoofsaaklik gereserveerde erwe vir die naasbestaandes van die persoon wie se oorskot reeds daar begrawe is," het die woordvoerder, Chantèl Edwards, gesê.
"Die begraafplase is nie meer operasioneel nie, maar die bestaande grafte is op rekord. Die funksie van die afdeling vir parke en ontspanning, wat onder die direktoraat gemeenskapsdienste val, is hoofsaaklik om na die netheid en instandhouding van die begraafplase om te sien.
"Die gras word gesny en onkruiddoders word gespuit. Volgens die instandhoudingskedule is die Blanco-begraafplaas vanaf 2 tot 5 Mei gediens met grassny, die toediening van onkruiddoder en rommelverwydering."
Volgens Edwards is die grafte en grafstene die verantwoordelikheid van gesinne om in stand te hou. "Parke en ontspanning beplan om die Blanco-begraafplaas in die volgende boekjaar te omhein."
Enige klagtes rakende vandalisme of diefstal moet na wetstoepassing (044 801 6350) verwys word. Vir meer inligting oor die gemeenskapsprojek stuur 'n e-pos na Cherese by cherese@uimsa.org.
Die historiese begraafplaas in Searlestraat, Blanco.
Verskeie grafte in die hoofbegraafplaas in Blanco is beskadig of heeltemal toegegroei en verwaarloos.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’