Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hy praat soos 'n filosoof en kyk reguit en sekuur soos 'n regsgeleerde, maar deur sy are vloei rou kreatiwiteit. Jason 'Hakkiesdraad' Hartman, 'n rymkletser met 'n enorme sin vir sosiale verantwoordelikheid, gesels oor sy jongste album, X-Mens en wat dit beteken om "mens" te wees.
Hy kom reguit van die Woordfees in Stellenbosch waar hy drie optredes gelewer het, vir ons onderhoud verlede Woensdag in 'n koffiewinkel in sy geboortedorp.
X-faktor
X-Mens is reeds 'n jaar gelede voltooi - 13 snitte met vyf hoorbeelde - net voor Covid-19-regulasies die kunste amper tot 'n stilstand gedwing het. "Maar, soos met saadjies wat geplant word, moes ons deur 'n ontkiemingsfase gaan," verduidelik Jason. "Baie keer as 'n mens iets plant, is daar 'n wagperiode."
Die CD is onlangs tydens 'n KykNET-televisieprogram bekendgestel. Hy verduidelik waar die naam vandaan kom: "Met die kulturele ontwaking kyk meer mense na hul DNS. In die land se geskiedenis het heelwat kruisbestuiwing plaasgevind - vanuit Europa, Wes-Indië, Maleisië, Verre-Ooste.
"Vir baie Suid-Afrikaners is hul DNS onbekend, en 'X' is die onbekende. Ons het groot rassekwessies in ons land. Ons as bruin mense kom in alle skakerings. Daar is 'n obsessie met kleur, in plaas van menswees. Ons moet van mekaar leer sonder dat kleur 'n kwessie is."
'n Videogreep van die enkelsnit, Woestynblom, vanuit die nuwe album X-Mens. Die video is plaaslik in Maart verlede jaar by die Gwaiingriviermond geskiet, net voor Covid-19-regulasies ingeskop het.
Blomtyd
Die enkelsnit Woestynblom verwys na die kulturele droogte. "Bruin mense word baie keer gedefinieer as mense sonder 'n kultuur. Oor die afgelope 15 tot 20 jaar was daar 'n ontwaking rondom Khoi-erfenis. Ons het deur daai kulturele droogte gekom. Net soos in die woestyn, as daar reën val, gaan dit blom," sê Jason.
"Almal in die musiekvideo is mense wat binne hul gemeenskappe 'n verandering maak met hulle spesifieke talente. Ons werk klink en voel eg Suid-Afrikaans. Ons bou brûe," sê Jason. "Jy kry mense wat die limelight like, en dan kry jy mense wat die lig wat hulle ontvang na die donker hoekies stuur."
Die musiekvideo is geproduseer deur Frazer Georgio Barry, in samewerking met Zenobia Kloppers, Deniel Barry, Lynelle Kenned en Grandmaster Ready D. Nino 'Dirty Fresh' Cleophas, Grand 'EgoNege' Claassen en CJ Levendal is die videograwe, met Stuart McNeal en Elton Olivier as hommeltuigoperateurs. NinoFilms en Bo-Menslike Produksies het die redigeerwerk behartig.
Vir meer inligting stuur 'n e-pos na koopxmens@gmail.com of besoek die Faceboo-kblad "XMENS deur Hakkiesdraad Hartman".
Kyk 'n video hieronder:
Invloede
"Rap music is the most influential music in the world, maar saam met dit kom daar ook 'n verantwoordelikheid," sê Jason.
"Waar politiek en religie faal sal musiek sukses behaal." Wie sou Jason beskryf as sy musikale invloede?
"Ek kyk op na Hemelbesem (Simon Witbooi). Hy is 'n briljante skrywer. Jerome Rex, die rymkletser kan sing ook - soul, jazz en R&B - en Frazer Barry, nog 'n ongelooflike skrywer wat soveel meer doen as net liedjies skryf.
Frazer speel 'n verskeidenheid van instrumente en is 'n aanbieder van Fiesta." Die bekende skrywer en digter Diana Ferris, Freddie Mercury en Quinton Tarantino, sowel as Bob Marley, is ook op Jason se lysie.
"Bob Marley het die kapasiteit om 'n sinnetjie te skryf, maar jy dink 'n paragraaf. Tieners ontdek hom steeds en luister na hom."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'