GEORGE NUUS - 100 York Mall in die middedorp het groot skade gehad in ‘n brand wat omstreeks middernag (Donderdag 13 Oktober) uitgebreek het.
André Fourie, eienaar van die gebou, sê die omvang van die skade moet nog vasgestel word, maar daar is rookskade deur die hele gebou.
Die inwoners van die agt woonstelle op die boonste verdieping moes ontruim word, maar die brandweer het dit om ongeveer 05:00 veilig verklaar vir hulle om terug te keer.
Die kern van die brand was in die haarsalon en dié is heeltemal uitgewis.
“Ons het gistermiddag beurtkrag gehad en ek vermoed dat daar dalk iets soos ‘n haartang of haardroër aan vergeet is wat warm geword het nadat die krag weer aangekom het. Ons kom al soveel jare aan en het nog nooit enige probleme gehad nie, dis maar vir ons baie sleg.
"Ons het natuurlik versekering, maar ek weet nie of al die winkeleienaars verseker is nie. Daar is natuurlik ook waterskade,” sê Fourie.
Die brandweer was baie vinnig op die toneel. Sekerheidspersoneel wat verbygery het, het Fourie se skoonseun van die brand laat weet.
Nog ‘n gebou van Fourie in Hiberniastraat het enkele weke gelede skade gehad nadat ‘n brand in Power Fashion ontstaan het. Hierdie winkel en PEP Stores langsaan, wat ook beskadig is, is nog steeds toe. Die brand daar het vermoedelik ontstaan by ‘n kragopwekker in ’n stoor wat tydens beurtkrag aan was.
“Met al die beurtkrag sal ’n mens huurders moet attent maak daarop om ekstra versigtig en bedag te wees op wat hulle doen,” sê Fourie.
Rika Bouwer van die Dierebeskermingsvereniging voor die sentrum waar hulle nog nie toegelaat is om in te gaan nie. Die DBV het 'n winkel in die sentrum.
Daar is rookskade regdeur die sentrum.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'