GEORGE NUUS - Baie wettige vuurwapeneienaars regoor Suid-Afrika is verheug en verlig oor die onlangse uitspraak deur die konstitusionele hof wat op Vrydag 27 Mei ten gunste van vuurwapeneienaars gelewer is. Maar wat beteken dit werklik?
Die hof het bepaal dat mense wie se lisen-sies reeds verstryk het, nie vir hernuwing aansoek kan doen nie, maar wel vir nuwe lisensies. En hoewel dit goeie nuus vir wapeneienaars is, moet die pas markeer totdat die polisie besluit het presies watter prosedures gevolg sal word wanneer aansoeke om nuwe lisensies gedoen word.
Die hofuitspraak beteken slegs in beginsel dat elke wapeneienaar wie se lisensie verval het, wel mag aansoek doen vir 'n nuwe lisensie vir daardie wapen.
Daar moet egter voldoen word aan die normale vereistes en voorwaardes vir die goedkeuring en uitreik van 'n nuwe lisensie, nie 'n hernuwing nie, soos bepaal word in die Wet op Vuurwapenbeheer 60 van 2000.
Uitspraak is goeie nuus, maar...
Volgens Tienie Hattingh van Wildman George se regsafdeling, is die uitspraak voorwaar goeie nuus vir vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het.
"Jy moet in ag neem dat alle lisensies nie weens nalatigheid verval het nie. Covid het 'n baie groot rol gespeel, mense se mediese kondisies, asook eienaars wat oorsee was gedurende daardie tydperk, het alles bygedra.
"Die uitspraak bied nou weer 'n geleentheid vir die wie se lisensies verval het om weer wapeneienaars te word, maar voor aansoeke kan begin, moet die polisie eers uitsluitsel gee oor die prosedures wat gevolg moet word. Dit baat nie om die polisiestasies nou te stormloop nie. Die publiek is welkom om met enige vrae oor die uitspraak na ons toe te kom," sê Hattingh.
Die prosedures sal bekendgemaak word sodra dit deur die polisie bevestig is.
Ons moet wag
Volgens Dawie van Rooyen, die eienaar van On Target Shooting Range and Training Academy in George, moet alle betrokke partye basies terugsit en kyk wat die polisie se reaksie op die uitspraak is.
"Dit gaan direk 'n aanduiding gee van die prosesse wat geneem gaan word vanaf die polisie se kant af. Dan kan ons met aansoeke begin," sê hy.
Volgens AfriForum se regs- en risiko-beampte, Armand Greyling, bevestig dit die vorige uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl dat 'n vuurwapen, hetsy gelisensieer of nie, die eiendom van die eienaar is totdat dit weens onderskeie wetlike bepalings vernietig word.
Greyling het verder gesê hulle hoop die minister van polisie, Bheki Cele, sal so gou moontlik voorskrifte uitreik en regulasies promulgeer om die uitspraak uit te voer.
Waarheen met wapens
'n Groot kommer bly egter die polisie se kapasiteit om wapens te stoor terwyl eienaars aansoek doen om nuwe lisensies.
Die konstitusionele hof het in die uitspraak duidelik gestel dat hoewel 'n mens nie jou eiendomsreg op 'n vuurwapen verloor nie, dit steeds onwettig is om 'n vuurwapen te besit waarvan die lisensie verstryk het.
Die vraag nou is hoe die polisie die aansoeke om nuwe lisensies gaan behartig en waar die vuurwapens gehou gaan word terwyl nuwe aansoeke verwerk word en of eienaars aansoek kan doen om 'n tydelike permit te bekom om hul vuurwapens te hou tydens die aansoek vir 'n nuwe lisensie.
Die wat hul vuurwapens tydens die twee amnestietydperke ingedien het, se aansoeke sal deur 'n ander proses hanteer word. Die nuutste hofuitspraak is nie op dié mense van toepassing nie omdat hulle glo reeds aan ander wetlike prosesse begin deelneem het.
Die hofuitspraak beteken slegs in beginsel dat elke wapeneienaar wie se lisensie verval het, wel mag aansoek doen vir 'n nuwe lisensie vir daardie wapen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'