GEORGE NUUS - Inwoners van Groenkloof wat handig is met brei- en hekelpenne het 36 skapies gemaak wat geskenk word aan die Zhara-skapieprojek.
Die vroue wat deelgeneem het, is deur die Buffelsdrift-wildreservaat in die Oudtshoorn-omgewing uitgedaag in 'n kompetisie om soveel moontlik skapies te brei of te hekel.
Buffelsdrift-eienaar, Pieter Pretorius, het vier aanloklike pryse geborg en die wenners is op Maandag 9 Oktober by Nostalgie Café by Groenkloof in 'n gelukstrekking bepaal en met hul pryse beloon.
'n Bykomende 11 skapies is deur persone van buite Groenkloof geskenk. Al die skapies gaan uitgedeel word aan kinderpasiënte in die onkologieafdelings van die plaaslike staats- en provinsiale hospitale in George en Oudtshoorn.
Die Zhara-skapieprojek het sy ontstaan gehad toe die 10-jarige kankerlyer van die Strand, Zhara du Toit, haar eie sagte hasie vir 'n medepasiëntjie in die hoësorgheenheid gegee het.
Van die skapies wat gebrei is om kankerkinders in die hospitaal te vertroos.
Zhara was besig om van 'n operasie te herstel om 'n kwaadaardige gewas te verwyder nadat sy in Januarie vanjaar met pleuropulmonêre blastoom gediagnoseer is.
"Voor die operasie het haar tannie ook 'n skapie vir haar gegee om haar te herinner dat sy Jesus se skapie is," het Pretorius gesê.
Hy het van die projek bewus geraak toe Zhara en haar gesin Buffelsdrift besoek het. Zhara se pa is 'n toeroperateur wat kliënte na Buffelsdrift verwys.
In dieselfde tyd het Pretorius twee bedrywige Groenkloof-inwoners, Cheryl en Johan van Zyl, tydens 'n besoek aan sy wildreservaat ontmoet. Hulle het aan die gesels geraak en dit het uiteindelik tot die idee van 'n kompetisie gelei. Pretorius het die pryse geborg en die Van Zyls het die kompetisie gereël.
Die 47 skapies gaan eers na Somerset-Wes om in die Skapieprojek se inventaris aangeteken te word voordat hulle terugkom om in George en Oudtshoorn versprei te word.
Volgens Pretorius het Zhara sedert die begin van die jaar al ses chemobehandelings gehad en sy behoort teen Februarie of Maart volgende jaar klaar te wees met al haar behandelings.
Die prystrekking was 'n gesellige geleentheid by Nostalgie Café by Groenkloof. Van links is Johan van Zyl en Dawn en Evered Kluckow. Foto's: Alida de Beer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’