Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Inwoners van Groeneweidepark is keelvol vir die vlaag van inbrake wat dié area sedert Desember teister. Volgens wykskomiteelid en buurtwagkoördineerder, Browen Johnson, dra die beboste area agter die buurt by tot die kriminele element.
"Die buurtwag, lede van die gemeenskap en mense wat sommer net verbygery het, het Saterdag kom help om die bosse weerskante van die grondpad tussen Groeneweidepark en die George-begraafplaas, uit te kap, rommel op te tel en die area skoon te maak. Dit is munisipale grond, maar ons kan nie meer rondstaan en wag vir iemand om dit te kom doen nie. Genoeg is genoeg," sê hy.
Volgens Johnson gebeur meeste inbrake bedags wanneer inwoners by die werk of in die dorp is. "Die skollies sit in die bosse en wag en hou ons dop. Sodra hulle sien iemand verlaat sy huis, slaan hulle toe. Genoeg is genoeg."
Die span, wat die skoonmaakoperasie, Operasie Bossiekapper gedoop het, het omstreeks 08:00 Saterdagoggend reeds begin skoonmaak en teen 16:30, net betyds vir die wedstryd tussen die Stormers en die Leeus, hulle gereedskap neergesit.
In die video gesels Johnson met joernalis, Kristy Kolberg, oor waarmee hulle besig is en wat dit veroorsaak het.
Kyk 'n video hieronder:
Die groep inwoners van Groeneweidepark wat die area agter dié woongebied Saterdagmiddag skoongemaak het.
So werk ons saam. Spanwerk maak baie werk min werk. Foto's: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'