GEORGE NUUS - Geskokte motoriste kon skaars hul oë glo toe ‘n vermeende grypdief, te midde van druk verbyverkeer en ten aanskoue van onderwysers én ouers, met ‘n mes na twee skoolseuns gesteek het.
Die insident het verlede Woensdagmiddag in Unionstraat op die sypadjie voor PW Botha Kollege plaasgevind.
"Ek was vasgevang in die middagverkeer en het by ‘n rooi verkeerslig gewag toe ek beweging tussen die kinders op die sypadjie opmerk," vertel mnr. Theo Liebenberg van Tavcor York Volkswagen Garage.
"Twee jong seuns was aan die stoei met ‘n lang, maer bruin ou wat ‘n mes uitgepluk het. Hy het twee keer na die een laaitie gesteek en ek kon die stopsel van sy skoolbaadjie sien uitpeul soos die baadjie geskeur het."
Geskok oor die voorbarigheid van die aanvaller, maar vasgekeer tussen ander motors het Theo op sy toeter geleun. "’n Volwassene, dalk ‘n onderwyseres, het op die man geskree en aangesien die gestoei nou almal se aandag getrek het, het hy laat spat.
"Ek het gesien hoe hy sy mes in die bosse gooi en oor ‘n heining laat spaander."
Teen dié tyd het die verkeer beweeg en het Theo die aanvaller met sy kar agternagesit. "Hy het swart klere en ‘n rooi mus aangehad," onthou Theo wat ook die mes vir die polisie uitgewys het toe hulle en Suiderkruis Sekuriteit opgedaag het. Die grypdief het ongelukkig weggekom.
"As jy sien hoe lank daai mes is, en dink dit kon in ‘n kind se lyf gewees het, gee dit jou behoorlik rillings," sê me. Riana du Rand, ook van Tavcor.
Mnr. Pieter Nel van Suiderkruis Sekuriteit en voorsitter van Sektor 3 se Polisiëringsforum in George het die mes vir haar gewys. "Dis ‘n groot kombuismes met ‘n swart plastiekhandvatsel. Volgens ons inligting is ‘n kind van York High ook aangeval, maar ons kon dit nie bevestig nie," sê Nel.
Mnr. Anthony Dingle van York High School sê egter hy is onbewus van so ‘n voorval en niks van die aard is aan hom gerapporteer nie. By PW Botha Kollege het die skoolhoof, mnr. Tones Fourie bevestig dat hy van die insident kennis dra, maar dat die twee betrokke leerlinge nie te voorskyn wou kom nie.
"Ons waarsku ons leerlinge gereeld om nie op hul selfone in die straat te loop en gesels nie. Dis jammer dat dít deesdae die toedrag van sake is."
Artikel: Anoeschka von Meck