GEORGE NUUS - Die politieke party Good se kantoor in George is gesluit nadat die Wes-Kaapse LP, Brett Herron, besluit het om sy kiesafdelingskantoor vir die nuwe termyn te verskuif. Dit is nog nie duidelik waarheen die kantoor gaan skuif nie.
George Herald het omtrent gesukkel om die kantoor by Yorkstraat 85 in die Watson-gebou, te vind. Die kantoor is in 'n stegie, langs die munisipale afdeling vir siviel en tegniese dienste geleë.
Behalwe vir 'n ou, verlore plakkaat van Donovan Saptoe, destydse burgemeesterskandidaat vir Good, op die sypaadjie en 'n inskrywing op die deur, sou 'n mens maklik verby die toe deure geloop het.
Twee hawelose persone, Stephanie Plaatjies en Ivan-Lee Muller, het nog 'n bietjie "ingelê" met George Herald se aankoms.
Volgens Muller is die kantoorinhoud oor die naweek getrek. Muller het verduidelik hulle verkies hul huidige slaapplek, want hulle mag glo nie by George-nagskuiling 'n bed deel nie. Beide Muller en Plaatjies is eintlik DA-ondersteuners.
Herron se woordvoerder, Janke Tolmay, het gesê die kantoor is in 2019 geopen toe Herron die eerste keer tot die provinsiale wetgewer verkies is. "'n Kiesafdelingskantoor dien as 'n toeganklike hawe vir inwoners om met 'n lid van die provinsiale of nasionale wetgewer te skakel. Die kantoor in George sal verskuif word na 'n nuwe plek om die mense van die Wes-Kaap beter te dien."
Stephanie Plaatjies en Ivan-Lee Muller skrop nes voor Good se ou kantore. Beide is eintlik DA-ondersteuners.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’