GEORGE NUUS - Die kommerwekkende toename in voorvalle van vandalisme van Go George-infrastruktuur en -busse het 'n punt bereik waar dienslewering voortdurend belemmer word deur 'n tekort aan busse of gebrekkige skuiling by bushaltes.
"Vandalisme van Go George-infrastruktuur is 'n ernstige bron van kommer aangesien dit die gehalte van die diens-ervaring van ons passasiers beïnvloed en afbreuk doen aan ons missie om 'n waardige en veilige openbare vervoerdiens en gepaardgaande geriewe te lewer," sê James Robb, Go George-bestuurder.
"'n Beskadigde bus word uit diens onttrek vir herstelwerk, wat druk op die bestaande busvloot plaas. Vertraging in die koördinering van 'n vervangingsbus kan lei tot 'n rimpeleffek waar die diens vir die hele dag laat kan loop."
Die meeste skade vind plaas by busskui-lings, aan busse (sitplekke in die bus sowel as skade aan vensters as gevolg van klipgooiery wat die lewens van passasiers en bestuurders in gevaar stel), en openbare infrastruktuur by die bushaltes soos vullisdromme en toilette wat bedoel is vir die gerief van passasiers.
Graffiti, rommelstrooiing en diefstal van infrastruktuur soos geriffelde plaveisel, bushaltepale en skuilingelemente is 'n daaglikse werklikheid. Van die 80 voorvalle van klipgooiery na busse wat sedert 2019 aangeteken is, het 40 in 2021 plaasgevind.
Ontevrede George-inwoners begin aan boord kom om skade aan skuilings wat vir die gerief van passasiers bedoel is, te help stopsit.
Astronomiese vervangingskoste
Die herstel van beskadigde busruite het die George Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerk in 2021 alleen R965 000 gekos. Beskadigde en geskeurde vinielplak-kers wat diensinligting bevat, word tans vervang op 40 busskuilings - slegs sowat 'n derde van beskadigde skuilings - teen 'n koste van sowat R3 000 per skuiling.
Die koste van die vervanging van infrastruk-tuur en handelsmerkmateriaal wat deur vandale beskadig is, is astronomies.
Robb sê hulle doen nou 'n beroep op die gemeenskap om te help deur eienaarskap en verantwoordelikheid teenoor busfasiliteite in hul gebied te bevorder. "Ons het die hulp van die publiek, gemeenskapsbeïnvloeders sowel as godsdienstige en sake-organisasies nodig om skuldiges die gevolge van hul gedrag te laat verstaan en om 'n einde te maak aan sinnelose vernietiging van busse en fasiliteite."
Ontevrede George-inwoners begin aan boord kom om skade aan skuilings wat vir die gerief van passasiers bedoel is, te help stopsit.
Rap-kompetisie vir hoërskole
Ter uitbreiding van die busdiens se anti-vandalisme-veldtog is 'n rap-kompetisie vir hoërskoolleerders van stapel gestuur, met nege plaaslike skole wat ingeskakel het om die eerste ronde intern te behartig en drie finaliste in te skryf wie se anti-vandalisme rap-liedjies dan 'n kans staan om vir hulle 'n paar opwindende pryse te wen.
Die kompetisie sal oploop na 'n hoogtepunt in Junie, nasionale Jeugmaand, en die wenliedjies sal deel word van die anti-vandalismeveldtog.
Go George doen 'n beroep op die publiek om vandalisme te ontmoedig en te help stop, en om enige vandalistiese aksies aan te meld deur die Go George-inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel.
Enigiemand wat meer inligting wil hê of op een of ander manier betrokke wil raak, kan ook 'n boodskap by die inbelsentrum agterlaat of 'n e-pos aan info@gogeorge.org.za stuur.
Ontevrede George-inwoners begin aan boord kom om skade aan skuilings wat vir die gerief van passasiers bedoel is, te help stopsit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'