GEORGE NUUS - Die Blancogemeente se jaarlike Vleismark komende Saterdag, 3 Augustus, gaan die na verwagting weer honderde Georgiete lok met topkwaliteit vleis en ‘n feestelike basaar.
Die mark en basaar begin om 09:00 by die 4 Brothers Aartappelstoor, maar kopers kan reeds vanaf 08:00 ‘n nommer kom ontvang om hul plek in die tou van vleiskopers te bespreek.
Terwyl hulle wag, kan daar gesmul word aan pannekoek, sosaties en boereworsrolle en die dors geles kan word met koffie en koeldrank.
Vanjaar is daar 5,8 ton beesvleis (25 beeste), 20 skape / lammers en 750kg wild wat verwerk is tot 1,2 ton beeswors, 1,6 ton maalvleis, 400kg beesfrikkadelle (patties) en 50kg wildsfrikkadelle.
Die beroemde Blanco-worsresep is ‘n goedbewaarde geheim. Bees-, skaap- en wildsvleis sal te koop wees teen ten minste dieselfde en selfs goedkoper pryse as verlede jaar.
Hierdie geleentheid is Blancogemeente se grootste saamkuier en fondsinsameling van 2024.
Die organiseerders glo dat dit hulle in staat sal stel om vir nog 'n jaar 'n oophand gemeente te wees wat die gemeenskap dien en ‘n verskil maak.
Vir enige navrae, kontak die kerkkantoor (Gerda 044 8707 595); die gemeente se WhatsApp-nommer (062 900 8208) of Francois Mulder (082 676 4275).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’