Clarione Stoffels (voormalige visie-president), Cecil Noble (voormalige projekkoördineerder), Johlene Noble (voormalige sekretaresse), Godfrey Felix, Solly du Plessis, Charlie Damon en Ancelle Terblanche (almal voormalige addisionele
lede) het Maandagoggend tydens 'n perskonferensie by die George DA-kantore hul lidmaatskap betaal en hul volle steun agter Helen Zille se party gegooi.
Die sewe nuwe DA-lede is deur Marius Swart (George se DA-kiesafdelingshoof), Charles Standers (uitvoerende burgemeester), Daniël Maritz (uitvoerende onderburgemeester), Tertuis Simmers (DA se federale jeugvoorsitter vir opleiding en ontwikkeling, asook Eden-raadslid) en Clareen Remas (wyk 14 se DA-kandidaat vir die tussenverkiesing) verwelkom.
Swart het in sy verwelkomingstoespraak gesê: "Die PBI is 'n eenmanorkes en sy leier, Virgill Gericke is nou op sy eie." Standers het aan die sewe gesê: "Julle is nou deel van 'n wenspan. 'n Span wat George na nuwe hoogtes gaan lei."
Noble het verduidelik dat daar reeds twee weke nà die Mei 2011-plaaslike regeringsverkiesings probleme binne die PBI-bestuur was. "Ons kon nie werk onder Gericke se eensydige besluitneming en diktatorskap nie. Hy gee die hele tyd apartheid en wit mense die skuld vir probleme in dienslewering. Genoeg is genoeg," het Noble aan die media gesê. "Ons is misbruik deur Gericke om sy persoonlike agendas te bevorder."
Stoffels het gesê hy voel nou verlig, maar het 'n sterk verbale aanval teenoor Gericke geloods. "Hy is 'n gevaarlike man. Ek wil mense teen hom waarsku."
Gericke het skriftelik op die bewerings geantwoord. "Die PBI is nie verbaas dat hier-die aantygings vir die soveelste keer in die media geopper word nie. Vir alle praktiese doeleindes het die strukture van die PBI alreeds in 2011 met hierdie persone gedeel. Dit is dus stokou nuus. Hierdie persone het alreeds twee jaar gelede die party verlaat." Hy het ook aangevoer dat die PBI 'n aansoek om 'n interdik teen die oorlopers bekom het nadat hulle die party met valse voorwendsels wou kaap. "Natuurlik onder aanvoering van die DA.
"Ons is nie verbaas dat die DA sentraal staan in hierdie poging om ou nuus op te bring nie. Dit is 'n aanduiding van die vlak waartoe hulle sal daal om mag te behou. Dit spreek boekdele van hul geskiedenis van politieke onverdraagsaamheid en opportunisme. Dit is weereens 'n bewys dat die DA bruin mense misbruik en teen mekaar afspeel om hul selfsugtige doel te bereik om alleen te wil regeer.
"Ek is eweneens nie verbaas dat hulle my bestuurstyl sien as die van 'n diktator nie. Ek is egter die 'visionaris' van dié party en weet presies watter doel ons wil bereik met die party. My bestuur laat hulle nie aan die neus rondlei met allerhande beloftes van kontrakte en werk van die DA nie, soos hierdie ontevredenes. My agenda was nog altyd dié van die mense en nie my eie nie. Hulle wat my ken, weet dit is die waarheid."
Gericke het bygevoeg: "As deel van die politieke agenda van die dag kan ons nie die vernietigende effek van apartheid en rassisme miskyk nie. Ons is nie so skynheilig nie. Ons poog op alle gebiede om debat te bevorder wat die verlede sal heel. Ons opponente hardloop egter weg van die waarheid van apartheid." Hy het die DA ook daarvan beskuldig dat hulle 'kleurling-politiek' bedryf.
Seven former PBI executive members joined the DA, but not without vigorous verbal attacks on the PBI leader and Councillor, Virgill Gericke. The former project coordinator of the PBI, Cecil Noble said they had enough of Gericke's allegations that apartheid and white people are responsible for problems in service delivery. The former PBI Vice-President, Clarione Stoffels described Gericke as a dangerous man.

Tydens die bekendmaking dat sewe PBI-bestuurslede by die DA aange-sluit het, is voor van links: Charles Standers (burgermeester), Johlene Noble (voormalige PBI-sekretaresse), Clareen Remas (wyk 14 se DA-kandidaat) en Marius Swart (George se DA-kiesafdelingshoof). Agter van links is: Tertuis Simmers (DA se federale jeugvoorsitter vir opleiding en ontwikkeling, asook Eden-raadslid), Godfrey Felix (voormalige PBI-addisionele bestuurslid), Daniël Maritz (onderburgemeester), Solly du Plessis, Charlie Damon (beide voormalige PBI-addisonele bestuurslede), Cecil Noble (voormalige PBI-projekkoördineerder), Ancelle Terblanche (voormalige PBI-addisionele bestuurslid) en Clarione Stoffels (voormalige PBI-visie president). Foto: Christo Vermaak
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'