GEORGE -Mnr. Kenny Africa, George se geskorste verkeershoof, het verlede week bedank en sy kantoor ont-ruim.
Hy meld Donderdag aan by adv. Lennit Max, die Wes-Kaapse minister van Gemeenskapsveiligheid, se kantoor as hoofdirekteur van provinsiale verkeer.
Me. Nicolette van Zyl-Gous, hoof van Max se kantoor, het Africa se aanstelling bevestig. Sy het gesê die pos is vroeër vanjaar geadverteer en dat hulle baie aansoeke vir die posisie ontvang het. Africa is verlede Woensdag ingelig van sy aanstelling.
Die George Herald wou weet of hulle bewus was van die dissiplinêre ondersoek teen Africa en of hy dit tydens sy onderhoud met hulle verklaar het asook of so ‘n verklaring nie maar deel sou wees van die prosedure van ‘n nuwe aanstellings nie.
Hierop het sy gesê dat die departement die regte prosedures gevolg het met die aanstelling en dat sy haar nie kan uitlaat oor die detail daarvan nie.
Sy het wel gesê dat hulle kantoor verlede week gerugte gehoor het van die dissiplinêre ondersoek teen Africa deur die George Stadsraad en dat hulle ‘n skriftelike navraag aan die burgemeester, me. Mercia Draghoender gerig het.
"Die kantoor het slegs ‘n antwoord van die George Munisipaliteit ontvang dat mnr. Africa bedank het," sê Van Zyl-Gous.
Draghoender het vandeesweek gesê haar kantoor het verlede Vrydag ‘n navraag van Max se kantoor gekry en dat hulle daarop gereageer het.
Dit blyk ook dat nie sy of die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. André Smith, gekontak is vir verwysings voor Africa se aanstelling verlede Woensdag nie.
Daar is betroubaar verneem dat daar 14 klagtes teen Africa was en selfs beweringe van ‘n moontlike aanbeveling van die raad om Africa krimineel te vervolg.
Smith het vandeesweek gesê Africa het sy bedankingsbrief persoonlik aan hom kom oorhandig. Die dissiplinêre ondersoek teen Africa gaan ook nie meer voort nie.
Mnr. Stefan Raubenheimer, ‘n onafhanklike ondersoeker wat ‘n jaar gelede ten duurste die omstrede verkeersverslag vir die raad opgestel het, beskryf Africa as iemand wat nie veel weet van mense lei nie. Hy sê in sy verslag dat Africa, wat die pos as hoof ná ‘n tweede probeerslag by verstek gekry het, hardwerkend is en uitstekende kennis van verkeer het, maar dat hy ontoereikend is as leier.
Ander ondersoeke gaan voort
Oor die ander geskorste amptenare, mnr. Daniël Beeka, direkteur van gemeenskapsveiligheid, mev. Rochelle Jacobs, ‘n senior verkeersbeampte, mnr. Cecil Africa, die munisipale bestuurder, mnr. Louis Fourie, direkteur van finansies, en sy adjunk, mnr. Chris Marias, sê Smith hulle poog om die dissiplinêre aksies so gou moontlik te finaliseer. Hul skorsings hou verband met twee verslae, die verkeersverslag en ’n verslag oor ‘n rekenaarprojek.
Artikel: Lizette da Silva