Update
GEORGE NUUS - 'n Plaaslike gesin voel dat die Elim Sewendedag-Adventiste in Pacaltsdorp hulle gefaal het ná hul dogter deur 'n voormalige ouderling van dié kerk seksueel aangerand is.
Die voorval het in die begin van 2016 by die beskuldigde se huis plaasgevind. Die slagoffer was toe 10 jaar oud. Die 52-jarige beskuldigde is op 26 April in die Thembalethu-streekhof aan seksuele aanranding skuldig bevind. Hy word eerskomende Maandag, 11 Junie gevonnis. Volgens die slagoffer se pa het die kerk, waarvan hulle lede is, probeer om die saak onder die mat te vee.
Die beskuldigde, wie se naam weerhou word om die slagoffer se identiteit te beskerm, het op 14 November 2016 die voorval aan 'n pastoor van die Elim Sewendedag-Adventiste, Eugene Carolus, bely.
Volgens die slagoffer se ma is sy daarna onder valse voorwendsels na 'n vergadering met Carolus en die beskuldigde genooi. By die vergadering het die beskuldigde die ma van die voorval vertel.
"Ek probeer steeds om deur die emosies te werk. Dit maak seer en ek is teleurgesteld oor hoe my familie behandel word. Carolus het nou nog nie 'n saak by die polisie aangemeld nie. Daardie aand het my hele wêreld in duie gestort. Ek wou hê die aarde moes oopmaak en my insluk," het sy gesê.
Sy voel Carolus moes die saak onmiddellik by die polisie aangemeld het in plaas daarvan om te wag vir die gesin om dit te doen. Die klag is twee dae na die vergadering, deur die ma, by die plaaslike polisie ingedien. Die slagoffer se pa het gesê hoewel die beskuldigde aan die plaaslike pastoor bely het, het die kerklede hom steeds ondersteun.
"Dis ontstellend en ons as ouers is baie ongelukkig oor hoe die situasie hanteer is. Die proses wat gevolg is, was gebrekkig en die mate van arrogansie en die optrede van leierskap is onaanvaarbaar. Aan die een kant betoog hulle vir kinder- en vroueregte en aan die ander kant kom dit voor asof hulle seksuele misdadigers in die kerk beskerm. Dit verstom my om te dink dat sogenaamde wedergebore Christene stilbly wanneer hierdie gruweldade plaasvind," het hy gesê.
Carolus het egter gesê hy voel die kerk het destyds gedoen wat die beste vir die slagoffer was. Hy sê die voorval het nie op kerkterrein plaasgevind nie en volgens hom is die slagoffer en haar familie nie lede van die kerk nie.
"Ek het die ekstra myl gegaan en op dieselfde dag die ma gekontak. As dit nie vir my was nie sou hulle nie geweet het van die voorval nie. Die saak is eers twee dae na die vergadering by die polisie aangemeld omdat die slagoffer se ma my gevra het om niks te doen tot ek nie met haar man gepraat het nie. Die beskuldigde is dieselfde week as lid van die kerk geskors. Dit is die grootste stap wat die kerk teen hom kon neem."
Volgens hom het die kerk ook aangebied om vir die slagoffer se berading te betaal.
"Ons deel die woede en wrewel wat die familie het en respekteer hulle omdat hulle kwaad is, maar ek het gedoen wat ek kon," het Carolus gesê.
* A local family feels that the Elim Seventh Adventists in Pacaltsdorp failed them after their daughter was sexually assaulted by a former Elder of this church. The incident occurred at the accused's home at the beginning of 2016. The victim was 10 years old. The 52-year-old accused was found guilty of sexual assault on 26 April in the Thembalethu Regional Court. He will be sentenced on Monday 11 June. According to the victim's father, the church tried to sweep the case under the carpet.
Lees 'n vorige artikel: Voormalige kerkslid vas vir seksuele aanranding
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'