GEORGE NUUSFLITS - 'n Plaaslike gesin voel dat die Elim Sewendedag-Adventiste in Pacaltsdorp hulle gefaal het ná hul dogter deur 'n voormalige lid van dié kerk seksueel aangerand is.
Die voorval het in die begin van 2016 by die beskuldigde se huis plaasgevind. Die slagoffer was toe 10 jaar oud.
Die 50-jarige beskuldigde is op 26 April in die Thembalethu-streekhof aan seksuele aanranding skuldig bevind. Hy word eerskomende Maandag 11 Junie gevonnis.
Volgens die slagoffer se pa het die kerk, waarvan hulle lede is, probeer om die saak onder die mat te vee.
Die beskuldigde, wie se naam weerhou word om die slagoffer se identiteit te beskerm, het op 14 November 2016 die voorval aan 'n pastoor van die Elim Sewendedag-Adventiste, Eugene Carolus, bely.
"Ek probeer steeds om deur die emosies te werk. Dit maak seer en ek is teleurgesteld oor hoe my familie behandel word. Daardie aand het my hele wêreld in duie gestort. Carolus het nou nog nie 'n saak by die polisie gemaak nie,” het sy gesê.
Die slagoffer se ma sê is sy daarna onder valse voorwendsels na 'n vergadering met Carolus en die beskuldigde genooi. By die vergadering het die beskuldigde haar van die voorval vertel.
Carolus het gesê hy voel die kerk het destyds gedoen wat die beste vir die slagoffer was. "Ek het die ekstra myl gegaan en op dieselfde dag die ma gekontak. As dit nie vir my was nie sou hulle nie geweet het van die voorval nie.
Lees meer hieroor in Donderdag se George Herald, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'