GEORGE NUUS - 'n 38-jarige man van Pacaltsdorp is Dinsdagoggend, 11 Julie, op aanklag van brandstigting in hegtenis geneem. Dit volg ná 'n paartjie al hul besittings verloor het toe hul huis in Akasiastraat in Seaview, Pacaltsdorp, omstreeks 02:00 Saterdagoggend, tot op die grond afgebrand het.
Met 'n bietjie geluk by die ongeluk was die gesin ten tyde van die brand, wat glo deur 'n petrolbom veroorsaak is, nie tuis nie en niemand is tydens die voorval beseer nie.
"Ons is oukei. Ons was nie by die huis toe dit gebeur het nie. As ons tuis was sou ons dalk in die huis vasgevang gewees het," vertel die ma wat verkies om anoniem te bly.
Die gesin het kort na die voorval tydelike heenkome gevind. Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is 'n klag van brandstigting aanhangig gemaak ná die paartjie se woning in puin gelê is. Hy het die arrestasie bevestig en gesê omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.
Volgens gerugte uit die gemeenskap en op sosiale media, wil dit voorkom asof jaloesie die oorsaak van die voorval is.
Daar word beweer dat die verdagte die eienaar se voormalige kêrel is. Hy wou glo wraak neem ná sy hom gelos het.
Volgens inligting woon die eienaar nie self op die perseel nie, en was die paartjie wie se huis afgebrand het, slegs huurders.
"Die verdagte bly in aanhouding. Hy staan tereg op aanklag van brandstigting en sal in die hof verskyn sodra hy aangekla word," het Spies gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’