GEORGE NUUS - 'n Ma, haar dogter en twee kleinkinders moes verlede Vrydagoggend, 21 April, in die vroeë oggendure skarrel om betyds te ontsnap na 'n brand wat hul HOP-huis in puin gelê het.
Hulle het al hul besittings in die brand verloor. Volgens die ma, Elizabeth Laminie, het die brand ontstaan in 'n houthut wat aan die hoofhuis vasgebou is.
"Ons het aan die ander kant van die huis geslaap en die houthut was al uitgebrand toe ons wakker skrik toe die vlamme en rook so te sê op ons was. Daar was nie tyd om enigiets te probeer red nie. Ons het net die kinders gegryp en uitgehardloop," vertel Laminie.
Die George-brandweer was betyds om te keer dat die brand na omliggende huise versprei.
Laminie sê hulle woon al 29 jaar in hierdie huis in Snakestraat in Parkdene. Dit behoort aan haar ma wat op dieselfde erf in 'n aparte plek woon. "Ons is nou almal ingeprop by my ma, so dit gaan maar moeilik."
Die gesin benodig dringend klere, beddegoed, huisraad en kos asook boumateriaal. Die kinders is 'n vierjarige meisie en 'n agtjarige seun.
Enigiemand wat kan help, kan Laminie bel by 063 972 8863 of haar buurman, Reon by 061 360 2963.
Al die gesin se besittings is vernietig. Foto: Reon George
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’