Gallery
TUINROETE NUUS - Meer as sewentig 90-plussers van Groenkloof George en Groot-Brak het op Maandag 7 November byeengekom vir 'n gesellige ontbyt by die Groenkloof-restaurant.
Merkbaar onder hierdie seniors is 'n geestelike en fisiese lewenskragtigheid waaroor baie mense wat jare jonger is nie beskik nie.
Die oudste inwoner, Lien Steyn (99), is van Groot-Brak. Sy is geseënd met 'n flink brein en lees 'n paar boeke per week - sonder 'n bril. Haar dogter, Kia Bierman, het die taak om die boeke by die biblioteek uit te neem.
Steyn is ook baie lief vir sport kyk op TV - van krieket, tennis en gholf tot rugby en veral sewesrugby. En sy onthou die tellings van die wedstryde wat sy kyk.
Haar gesondheid is so goed dat sy nie veel medikasie nodig het nie. Oor hoe om nog so op en wakker te wees op so 'n hoë ouderdom, sê Lien, "Dis genade. En ek het 'n stil lewe gelei. Ek het op 'n plaas grootgeword en toe het ons nog alles vars gehad. Dis seker in die gene ook. My oupa en ouma aan vaderskant was diep in hul tagtigs toe hulle oorlede is."
Die 98-jarige Victor Olivier sê hy kan nie meer so goed loop nie, maar lees graag. Sy vrou, Cornelia, wat raak-raak aan 90, is nog baie aktief en gaan gereeld "voetslaan", en dan moet die personeel wat saamstap uithaal om by te hou, sê sy.
FOTOGALERY: 90-plussers van Groenkloof George en Groot-Brak kuier saam
Blyth Thompson is op 94 steeds betrokke in die gemeenskap, onder meer as lid van die George-hospitaal se trust. Hy is wyd belese en berese, speel graag nog gholf op die plaaslike kortbane, en het 'n lewendige belangstelling in die politiek.
Ena Badenhorst (94) sê sy het 'n besige lewe gehad en het in haar 70's nog kantoorwerk gedoen. Sy het ook baie naaldwerk gedoen. "Nou lees ek verskriklik graag - ek vang op op al die leeswerk waarvoor ek nooit tyd gehad het nie." Haar dogter, Dalene Heath, sê sy onthou telefoonnommers en verjaarsdae baie goed en geniet goeie gesondheid, so sy gebruik nie veel medikasie nie.
Nog 'n merkwaardige inwoner, Pat Coleman, wat in Desember 92 word, is 'n flink tafeltennisspeler wat graag aan Groenkloof se weeklikse sportdag deelneem. Sy het gespeel toe sy jonger was, maar slegs wanneer die geleentheid hom voorgedoen het. "Ek maak ook graag tuin, is lief vir kook en hou van joga," sê sy.
Geoff Lacey (91) het tot verlede jaar nog voltyds gewerk as motorfietstegnikus en is bekend in motorfietskringe.
Ena Badenhorst (94) en haar dogter, Dalene Heath.
Groenkloof-stigting
Paul Kruger, ook 'n inwoner van Groenkloof, het aangekondig dat die Groenkloof-stigting deur die ontwikkelaar, Jan Pienaar, onlangs op die been gebring is.
Dit is gedoen nadat die ontwikkelaar verskeie versoeke ontvang het om geskenke te aanvaar van inwoners, soos in die geval waar 'n huis by afsterwe van 'n inwoner nagelaat word waar daar geen erfgename is nie.
Die stigting sal eerstens die behoeftes wat daar in Groenkloof bestaan, aanspreek en dan ook verder in Suider-Afrika. Dit is gebaseer op Christelike waardes en die doel is om senior burgers te help om 'n betekenisvolle lewe met waardigheid te kan lei deur ondersteuning op emosionele, fisiese, geestelike en geldelike vlak.
Die stigting stel hom ook ten doel om navorsing en ontwikkeling in geriatriese sorg te ondersteun, en die generasiegaping tussen jongmense en seniors te oorbrug. Nog 'n fokus is gestremdheid, dementia en palliatiewe sorg.
Issie Pyper (90) was vergesel van haar dogter Christa. Issie lei nog 'n aktiewe lewe, wat sy as 'n groot voorreg beskou. Sy het 'n baie ernstige motorongeluk oorleef toe sy nog jonk was en sê dis net genade dat sy so 'n hoë ouderdom kon bereik.
Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'