GEORGE NUUS - Die dierebeskermingswet moet definitief gewysig word en daar sal ernstig na dié wet gekyk moet word.
Só het landdros Erna Grobler verlede Donderdag 5 Oktober tydens die vonnisoplegging van Tosca die labrador se eienaar, Quinton van Rooyen, gesê.
Van Rooyen is skuldig bevind aan dieremishandeling en is tot 12 maande korrektiewe toesig gevonnis.
Hy moet ook vir 'n jaar lank 16 ure per maand gemeenskapsdiens doen by die Wilderness-polisiestasie.
Tosca is op 18 Februarie 2016 deur inspekteur André Baartman van die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) in 'n haglike toestand in Touwsranten gevind.
Sy was met 'n ketting aan haar hondehok vasgebind - verhonger en met maaiers wat besig was om haar lewend te eet. Haar kos- en waterbakke dolleeg.
Alhoewel Tosca intensiewe behandeling ontvang het, het sy Sondagoggend 21 Februarie 2016 die stryd verloor.
Dit het die versteurde DBV-personeel nóg meer ontstel.
Op daardie tydstip het senior DBV-inspekteur, Salome Bruyns, aan die George Herald gesê dat dit die ergste geval van mishandeling was wat sy nog gesien het.
Grobler het in haar uitspraak gesê dat wat Van Rooyen gedoen het ontsettend wreed is. Hy het Tosca se lyding verleng deur haar aan 'n ketting vas te maak.
Hy het verhoed dat die brandmaer hond ten minste vir haarself kon kos en water soek.
"U moet die erns van die misdryf waaraan u skuldig is nie ligtelik sien nie. U moet besef dat daar 'n wet is wat diere teen hierdie tipe misdryf beskerm en dat dit 'n baie ernstige oortreding is," het sy gesê.
Van Rooyen mag nie die George-area verlaat sonder toestemming van die korrektiewe beampte nie.
Sou hy sy voorwaardes verbreek, sal sy straf moontlik direkte tronkstraf tot gevolg hê.
Lees vorige artikels hier:
- Justice for Tosca
- Residents want justice for Tosca
- Tosca's starvation death: Couple in Court
- Still no justice for Tosca
- Horrific death for give away dog
- Georgians opinion about Tosca's death
- Another starved dog found
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'