GEORGE NUUS - 'n Skoonmaak-inisiatief van die Powervan-bestuurder al langs die treinspoor deur die dorp het addisionele momentum gekry.
'n Inwoner, Jacques de Beer en sy seun, Adriaan het 'n onlangse artikel oor hierdie inisiatief van Charl Marais van die Powervan in die George Herald gelees en gereageer op Marais se oproep op Georgiete om betrokke te raak.
Jacques en Adriaan het die afgelope Saterdag, 23 Maart, hand bygesit om saam met 'n span werkers rommel langs die spoor op te tel.
Hulle het in die gedeelte van die stasie af tot by die Wellingtonstraat-brug 76 sakke volgemaak. Mense van Precast Panel Products het ook gehelp. Almal het van 08:00 tot 13:00 gewerk.
Die Powervan se uitstappies neem besoekers van die stasie by die Transnet-vervoermuseum deur die dorp na die Outeniquaberge.
"Ons wil graag dat besoekers 'n aangename ervaring moet hê en huis toe gaan met 'n goeie indruk van George. Die rommel langs die spoor op sekere dele skep 'n baie slegte indruk, net soos in ander dele van ons dorp."
Marais daag die publiek en besighede uit om betrokke te raak deur in hulle eie omgewing soortgelyke inisiatiewe van stapel te stuur.
"Ek dink aan areas soos die industriële gebied wat baie aandag kort. Ek hoop ons kan die inisiatief uitbrei en dat George se mense daarop sal fokus om die dorp mooi skoon te hou.
"Miskien moet ons 'n hashtag begin, #KeepGeorgeClean!"
Belangstellendes kan Charl Marais bel by 083 630 3377 of Jacques de Beer by 072 323 3166.
Die George-munisipaliteit wys daarop dat onwettige vullisstorting aangemeld kan word by Wetstoepassing by 044 801 6350 of sprins@george.gov.za.
As 'n klaer name, voertuigregistrasiebesonderhede of addresse van beweerde oortreders het wat onwettig stort en bereid is om 'n verklaring af te lê in hierdie verband, kan hulle Wetstoepassing kontak. 'n Foto van die oortreder is nie nodig nie, maar sal die saak versterk vir 'n waarskuwing of boete om uitgereik te word.
Die span wat Saterdagoggend gehelp het om rommel op te tel, van links: Juliana van Koller, Nicholaas Taole, Grieta Stuurman en Mkulisi Siziba.
Wanneer soveel rommel opgeruim word, maak dit 'n groot verskil in die voorkoms van 'n gebied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’