GEORGE NUUS - 'n Skoonmaak-inisiatief van die Powervan-bestuurder al langs die treinspoor deur die dorp het addisionele momentum gekry.
'n Inwoner, Jacques de Beer en sy seun, Adriaan het 'n onlangse artikel oor hierdie inisiatief van Charl Marais van die Powervan in George Herald gelees en gereageer op Marais se oproep op Georgiete om betrokke te raak.
Jacques en Adriaan het die afgelope Saterdag, 23 Maart, hand bygesit om saam met 'n span werkers langs die spoor skoon te maak.
Hulle het in die gedeelte van die stasie af tot by die Wellingtonstraat-brug 76 sakke vullis opgetel. Mense van Precast Panel Products het ook gehelp. Almal het van 08:00 tot 13:00 gewerk.
Die Powervan neem besoekers van die stasie by die Outeniqua-vervoermuseum deur die dorp na die Outeniquaberge.
"Ons wil graag dat besoekers 'n aangename ervaring moet hê en huis toe gaan met 'n goeie indruk van George. Die rommel langs die spoor op sekere dele skep 'n baie slegte indruk, net soos in ander dele van ons dorp."
Marais daag die publiek en besighede uit om betrokke te raak deur in hulle eie omgewing soortgelyke inisiatiewe van stapel te stuur.
"Ek dink aan areas soos die industriële gebied wat baie aandag kort. Ek hoop ons kan die inisiatief uitbrei en dat George se mense daarop sal fokus om die dorp mooi skoon te hou. Miskien moet ons 'n hashtag begin, #KeepGeorgeClean!"
Belangstellendes kan Charl Marais bel by 083 630 3377 of Jacques de Beer by 072 323 3166.
Die span wat gehelp het om rommel op te tel, van links: Juliana van Koller, Nicholaas Taole, Grieta Stuurman en Mkulisi Siziba.
Wanneer soveel vullis uit 'n area verwyder word, maak dit 'n groot verskil.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’