OUDTSHOORN NUUS - Vier Georgiete het Saterdagaand die skok van hul lewe gekry na hul voertuig met klippe bestook is.
Volgens dr. Francois du Toit, het hy en drie ander insittendes, Saterdagaand 'n geleentheid in Oudtshoorn bygewoon.
"Dit was net na 21:00 toe ons op pad huis toe was. Ons was net oor die brug naby die vulstasie toe ons 'n harde slag gehoor het. Twee klippe het die voertuig getref.
"Dit het egter soos een slag geklink, maar die klippe is seker gelyk gegooi.
"Een klip het die pilaar van die motor se deur getref en die ander een die lig. Net 'n entjie voor ons het nog voertuie gestaan waar ons toe afgetrek het.
"Een van die bestuurders het vir my gesê dat hulle die slag van die klippe wat ons kar getref het, gehoor het."
Dit blyk dat daar klippe na die ander voertuie ook gegooi is, maar dat die voertuie nie getref is nie.
Volgens Du Toit het hulle bitter groot geskrik.
"Dit is 'n massiewe skok as mens nie so iets verwag nie. Ek is net bly dat niemand binne die motor beseer is nie."
Volgens dr. Annetia Heckroodt, wat 'n passasier in die voertuig was, wil sy ander motoriste wat in die aand daardie pad ry net waarsku dat sulke voorvalle wel daar gebeur.
"Dit is bitter gevaarlik. Mense kan hul lewe so verloor."
Du Toit het gesê dat daar nie 'n klag by die polisie gelê is nie, maar dat Heckroodt wel die voorval by die polisie aangemeld het.
Die duik wat die klip in die motor se pilaar gemaak het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’