GEORGE NUUS - 'n Eiendomsagent van George, Annelise Naudé, het onlangs een van haar drome verwesenlik toe sy die Camino Frances, 'n staptog van 780 km, oor 'n tydperk van 31 dae voltooi het.
Die Camino Frances is 'n pelgrimsroete van die dorp St Jean Pied de Port in Frankryk, na Santiago de Compostela in Spanje.
Volgens Naudé was haar aanvanklike beplanning om die staptog drie jaar gelede aan te pak, maar weens die pandemie was dit nie moontlik nie.
"Ek wou egter steeds dié droom verwesenlik," het sy gesê. "Ek moet bysê dat die Camino drie jaar gelede dalk nie so goed vir my sou gewees het, soos nou nie. Ek was nie op 'n plek in my lewe waar ek nou is nie, waar ek ontvanklik is vir dit wat ek gaan ontvang nie. Daar is 'n doel met alles en ek dink dié jaar was vir my die regte tyd."
Hierdie foto is geneem toe Naudé deur die Masetta gestap het: "Dit was die moeilikste gedeelte van die Camino om te stap."
Camino sal voorsien
Naudé het op versoek haar ervaring met George Herald gedeel. Sy skryf die volgende oor haar wedervaringe: "'n Mens moet nie die Camino doen as jy jouself nie oopmaak vir dit wat die Camino jou kan bied nie. Daar's 'n baie bekende sêding op die Camino: 'die Camino sal voorsien', en dit is regtig so! Ek het al die pad op die roete nie een keer bespreek vir oornagplek nie, is twee keer weggewys, maar het elke aand 'n slaapplek gehad. Uit geloof en vertroue het ek aanhou 'klop'.
"Daar is baie wat vra: 'Hoekom moet jy 780 km gaan stap in 'n vreemde land om al die dinge van jouself uit te vind of te ervaar?' Wel, dit het ek ook nou eers uitgevind, daar is baie stappers/pelgrims om jou wat om watter rede ook al 'hul eie Camino' stap, en almal respekteer mekaar daarvoor, almal van verskillende lande, maar tog deel 'n mens vyf belangrike aspekte: geestelike verryking, oefening en gesondheid, avontuur, 'disconnect to reconnect' en die pret daarvan.
"Soos 'n goeie vriend vir my gesê het: "You take your mind on the Camino and you expect your body to go along with you. Your body will dictate to the mind to bring it into alignment. Once aligned your spirit will be at its lowest. All three will then cry together."
Wanneer die pad lank raak: hierdie brakkie het sy eie muil vir die lang staptog.
Verbeter jouself
"Daar gebeur telkemale sekere insidente op die Camino en almal as jy dit met enigeen deel sê hulle: 'daar is 'n rede hoekom dit met jou gebeur het.' Dis asof die Camino jou die heeltyd iets wil leer van jouself, ander mense en hoe om 'n uitdaging (ek noem dit nie probleme nie maar uitdagings) te hanteer op daardie stadium.
My grootste begeerte was om die 'goed wees' in myself nog beter te maak ten voordeel van almal om my, veral my kinders, vriende en familie.
"Ek het al verskeie staproetes gedoen en telkemale is daar iets wat vir my uitstaan soos 'n paal bo water, en dit is dat as jy na aan die natuur is, is jy na aan jou Skepper! Ek het op die Camino telkemale ervaar dat ek Sy teenwoordigheid so duidelik by my voel, die hunkering daarna is vir my soos 'n dryfveer... ek gaan terug vir nog!
"Ek hou ook van 'n uitdaging en dit is net iets wat ek vir myself wou bewys, dat ek vrou alleen, sonder enige hulp, al was daar baie, in die vreemde waar niemand jou kan verstaan nie, nie jou taal praat nie en jou kultuur ken nie, nog steeds die mas kan opkom.
"Ek het siek geword op die Camino, ek het verlang op die Camino, ek het lyfseer gehad op die Camino, maar tog moes ek elke dag opstaan en aangaan, want ek het 'n vliegkaartjie terug vir 'n sekere tyd, ek moes die afstand voltooi.
Die Camino het my iets geleer wat 'n mens nie vir iemand in woorde kan beskryf nie, dis net 'n ervaring wat almal moet beleef."
Die Camino-skulp reg in die middel van die kerkplein. Agt paaie kom by die skulp bymekaar en simboliseer die verskillende Camino-roetes wat in Santiago eindig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’