GEORGE NUUS - George-munisipaliteit loop breëbors rond nadat hulle 'n ongekwalifiseerde ouditverslag van die ouditeur-generaal (OG) ontvang het. Dit staan ook bekend as 'n "skoon ouditverslag".
Die bevinding is reeds verlede Dinsdag, 25 Januarie, deur die OG aan die munisipaliteit gestuur, maar moes eers aan die stadsraad voorgehou word. George-burgemeester, Leon van Wyk, het dit die afgelope Maandag bekendgemaak.
Van Wyk, bygestaan deur Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste en Marlene Barnardt, hoofsweep van die raad, het Dinsdag 1 Februarie oor die prestasie gepraat.
Die verslag is vir die tydperk Julie 2020 tot Junie 2021. Dit is die beste in die verband wat George die afgelope paar jaar gedoen het. George het van 2012 tot 2017 skoon oudits ontvang, maar in 2018 'n gekwalifiseerde verslag.
In 2019/20 het George 'n ongekwalifiseerde verslag met bevindinge ontvang, wat beteken dat daar uitstaande prosesse en aangeleenthede was wat aandag moes geniet om 'n skoon oudit te kon kry.
Van Wyk, Wessels en Barnardt het benadruk dat die prestasie 'n spanpoging was wat nie sonder goeie politieke en administratiewe bestuur vermag sou kon word nie. Hulle het lof gehad vir die amptenare, onder leiding van die waarnemende munisipale bestuurder dr. Michelle Gratz, se rol in die aangeleentheid.
Daar is steeds uitdagings, soos om te verseker dat die administrasie moet moderniseer en dat optimale dienslewering plaasvind.
Van Wyk het gesê die bevinding het verskeie voordele. Dit dui daarop dat die munisipaliteit se finansies gesond is. Wanneer die munisipaliteit gaan aansoek doen vir nog staatstoelaes en finansiering sal die jongste ouditverslag die aansoeke versterk. Om vir van die finansiering te kan kwalifiseer, moes 'n munisipaliteit byvoorbeeld 'n skoon oudit ontvang het.
Leon van Wyk
Wessels het dit as die "kersie op die koek" beskryf wat voorafgegaan is deur baie harde werk. Volgens hom moes die stadsraad/munisipaliteit benewens die gewone uitdagings van plaaslike regering ook die uitdagings wat met Covid-19 gepaard gaan, aanspreek.
Dit stuur 'n goeie boodskap aan moontlike beleggers en wys aan inwoners en ander belanghebbendes dat George vorder in sy pogings om die beste sekondêre stad in die land te word. Dit gee ook gemoedsrus aan inwoners dat die munisipaliteit stabiel is. Hy het gesê George is een van die min finansieel stabiele munisipaliteite in die land.
Barnardt het veral Van Wyk, Wessels en Gratz uitgesonder vir hul rol en bydraes.
Dit is nog nie duidelik wanneer 'n permanente aanstelling in die pos van munisipale bestuurder gemaak gaan word nie. Van Wyk het gesê die "proses is aan die gang".
In 'n persverklaring van die munisipaliteit het Van Wyk ook die hoof- finansiële beampte, Riaan du Plessis, die finansiële span, interne ouditkomitee en al die direktorate wat 'n groot poging aangewend het om te verseker dat hierdie mylpaal bereik word, bedank.
Luidens die verklaring het die ouditeur-generaal die bestuur geloof vir die munisipaliteit se oudituitkoms wat verbeter het.
"Die uitkoms in die vorige jaar was 'n ongekwalifiseerde ouditverslag met bevindinge oor voorafbepaalde doelwitte wat verbeter het na 'n ongekwalifiseerde verslag sonder enige bevindinge. Dit is hoofsaaklik toegeskryf aan die pogings wat deur die bestuur aangewend word om beheermaatreëls rondom behoeftige debiteure te verbeter, asook 'n algehele verbetering in die kontrole by die munisipaliteit."
Gratz was verheug oor die uitslag en het die geweldige spanpoging geprys.
"Die verbetering op die vorige jaar se oudituitkoms is 'n gepaste beloning vir die administrasie se harde werk en toewyding tot goeie bestuur, skoon administrasie en om te verseker dat George-munisipaliteit finansieel volhoubaar is."
Dr. Michelle Gratz
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'