Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Kom hou asseblief vakansie in George en besoek die gebied. Selfs al is die strande gesluit, het die stad soveel om te bied.
Dit was die boodskap van George-burgemeester, Leon van Wyk, bygestaan deur burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste, Dirk Wessels, in 'n gesprek met George Herald.
Van Wyk is diep teleurgesteld oor die besluit en vra die publiek om nie ooremosioneel te reageer nie. Die realiteit is die strande is gesluit. Dit gaan 'n groot ekonomiese impak hê met 'n uitkringeffek, maar besoekers moet kom!
"Ons ekonomie het dit bitter nodig." Ingrid Cronjé, hoof- uitvoerende beampte van die George-sakekamer, sê besoekers van onder meer Bloemfontein en Pretoria het die sakekamer gevra om teen die besluit te appelleer. Die instansie het sy kommer aan die owerhede oorgedra.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, sê die aankondiging is 'n groot terugslag. Hy het 'n beroep op mense gedoen om voort te gaan met hul vakansieplanne. Al is die strande gesluit, is daar ander dinge om te doen.
Antoinette Holtzhausen van Makarios on Sea in Heroldsbaai sê daar was nog nie kansellasies by hulle nie, maar wel navrae. "Mense kom juis na ons toe omdat hulle strand toe wil gaan."
Island Lake Holiday Resort naby Wilderness se woordvoerder sê vanjaar is stiller as vorige jare en is hulle nie vol bespreek nie. Van Wyk sê mense sal maar net aanpassings moet maak en alles is nie verlore nie. Raadslid Wessels het mense aangemoedig om die staproetes in die berg te verken en kanovaart te probeer. "Die area bied talle buitemuurse aktiwiteite." Vir inligting oor buitemuurse vermaak buiten strande, kontak George-toerisme by 044 801 9295.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'