Mnr. Jan Aspeling (52), het onderweg van Johannesburg na George stilletjies in die bus gesterf. Hy was ‘n diabeet en het reeds naby Bloemfontein glo gekla hy voel sleg. Een van die vroulike passasiers met ‘n mediese agtergrond het hom bygestaan en gehelp om sy medikasie te neem. Volgens die vrou, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het ‘n bleek Aspeling gebewe en was sy hande yskoud. "Hy wou egter nie sy insulien, wat agter in die bagasieruimte was, laat haal nie en gesê hy spuit hom slegs in die oggend in. Na gelang van sy toestand het ek getwyfel of hy die rit sou oorleef. ‘n Persoon met ernstige diabetes behoort nooit op ‘n langafstandbus te klim sonder om die personeel van sy siekte te verwittig nie."
Sy sê hy het tussen Colesberg en Graaff-Reinet aan die slaap geraak en sy kon geen sweem van die kenmerkende diabetes-koma ‘reuk’ bespeur nie. "Toe ons om 07:30 die Oudtshoorn-passasiers aflaai, het ek sy pols gevoel en daar was geen hartklop nie. Ek het besef hy is dood, maar aan die waardin gesê hy is in ‘n koma en dat ons Oudtshoorn-hospitaal toe moet ry. Ek wou haar voorlopig die skok spaar, want sy is nog baie jonk."
Aspeling, ‘n elektrisiën, het as langafstand trokbestuurder gewerk omdat werk in George skaars is. Die gesin het sowat twee en ‘n half jaar terug van Kaapstad na George verhuis. Hy het Dinsdag met ‘n vrag oppad na Nelspruit sy werkgewer gebel en gesê hy kan nie verder bestuur nie. ‘n Dokter het beslis hy het ‘n bloeiende maagseer, maar Aspeling wou niks weet van hospitalisering nie en gesê hy wil in George aansterk.
Sy vrou, Edelweiss het dadelik ‘n buskaartjie vir haar man bespreek omdat ‘n vlug te duur sou wees.
Edelweiss, wat by Tuinroete Agri in George werk, sê sy kon dit nie glo toe die busdiens haar bel om te sê haar man is dood nie. "Sy diabetes was onder beheer en hierdie ding het so skielik gekom. Hy het Sondag begin kla hy is naar en ons het gedink dis ‘n maagvirus. Ek het hom vanoggend ‘n paar keer gebel om te hoor of die bus betyds is, min wetende hy is toe reeds oorlede. Die busdiens het my toe van sy foon af gebel om die slegte nuus te vertel. Ek het gedink dis hy wat sê ek moet hom kom haal."
Aspeling was groot van postuur en die polisie en forensiese personeel in Oudtshoorn het lank gespook om sy liggaam uit die bus te verwyder en in die lykswa te tel.
Die 16 oorblywende passasiers het eers tussen 11:00 en 12:00 in George en Mosselbaai aangekom.
Aspeling laat sy vrou, Edelweiss, ‘n seun Josua (28) en ‘n dogter, Anneke (15) agter.
Hy gaan of in Kaapstad of in George begrawe word.
Die presiese oorsaak van sy dood is steeds onbekend.
ARTIKEL EN FOTO'S: ILSE SCHOONRAAD