GEORGE NUUS - Erfenis Wes-Kaap gaan die George-munisipaliteit help met die opstel van 'n erfenisinventaris. Dit het aan die lig gekom na 'n vergadering Dinsdagmiddag tussen verteenwoordigers van die Wes-Kaapse Erfenisraad, Erfenis Wes-Kaap, bewaringsinstansies en plaaslike owerhede.
Dit kom teen die agtergrond van kwaai kritiek wat in Februarie uitgespreek is oor die huidige inventaris. So 'n inventaris moet ingevolge die Erfeniswet van 1999 tot stand kom en die plaaslike owerheid is daarvoor verantwoordelik.
Probleme met die huidige inventaris kom al 'n lang pad. Die munisipaliteit het 'n inventaris laat opstel, maar dit het nie voldoen aan al die vereistes nie. 'n Paar jaar gelede is dit aanvanklik verwerp, maar later met streng voorwaardes goedgekeur. Die inventaris moet inligting bevat van alle strukture wat 60 jaar en ouer is. Voordat enige strukture verander of aangepas kan word, moet die Wes-Kaapse Erfenisraad eers toestemming aan 'n munisipaliteit gee. Die inventaris word as die basis vir ingeligte besluite beskou.
Colette Scheermeyer, adjunk-direkteur Erfenis Wes-Kaap het na Dinsdag se vergadering op vrae van die George Herald bevestig dat George se erfenisinventaris bespreek is. Volgens haar is voorgestel dat George kyk na hoe ander munisipaliteite dit suksesvol opgestel het. Daar is verskillende wyses hoe om dit te doen.
Wanneer die kwessie van die opstel van inventarisse ter sprake kom blyk dit dat munisipaliteite nie noodwendig die kapasiteit het nie. Op die vergadering is alternatiewe ookbespreek.
Voorbeelde van ander inventarisse sal beskikbaar gestel word.
Scheermeyer het benadruk dat Wes-Kaap Erfenis meer sigbaar wil wees en help. Vandeesweek se besoek is die eerste in 'n reeks van uitreikprogramme. Gewoonlik hou die Wes-Kaapse Erfenisraad sy vergaderings in Kaapstad by sy hoofkantoor. Verlede jaar is 'n raadsvergadering op Hermanus gehou en Woensdag die eerste keer in George.
Dr. Antonia Malan, voorsitter van die raad, het gesê die raad wil die "gesigte agter die telefoon en e-posse" ontmoet. Waar daar probleme is moet gekyk word hoe dit opgelos kan word.
Daar is nooit genoeg kapasiteit nie. Munisipaliteite is onder druk om byvoorbeeld te ontwikkel, inkomste te genereer, huise te bou en water te verskaf.
Van die verteenwoordigers van die Wes-Kaapse Erfenisraad, Erfenis Wes-Kaap, bewaringsinstansies en plaaslike owerhede wat Dinsdag se vergadering in George bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'