GEORGE NUUS - As twee sakeleiers hul sin kry, sal George sy eie kabelkarretjies kry om besoekers en inwoners na die bo-punt van die Outeniquaberg te neem om die asemrowende uitsig te bewonder.
Dit het verlede Donderdag by die George-museum ter sprake gekom waar 'n werksessie oor die toerisme moontlikhede van die Montagu-pas gehou is.
Een van die dryfkragte agter die projek, Alwyn Janse van Rensburg, het 'n voorlegging gemaak en onder meer verwys na die ekonomiese bydrae wat so 'n kabelkarstelsel in George kan maak.
Janse van Rensburg het in 'n onderhoud benadruk dat alles nog in 'n vroeë stadium is. Dit het 'n lang aanloop en daar was al voorheen twee ander pogings om iets soortgelyks te doen. Hy het reeds in 2011 die idee vir so 'n projek gekry en saam met 'n ander sakeman, Pierre Poolman, daaraan gewerk.
Janse van Rensburg het sy eie navorsing begin doen en baie tyd in die berg deurgebring. Hy het ook gesprekke gehad met mense wat voorheen by die ander pogings betrokke was en het selfs met 'n helikopter die gebied besoek. Einde 2012 is 'n eerste konsepplan opgestel. Hy het besef daar is potensiaal en dat dit kan werk.
In 2018 is die Outeniqua Cableway-maatskappy gevorm en hy het 'n vennoot, Charlton Fortuin betrek. Fortuin kom oorspronklik van George.
Die plan is om kabelkarretjies te gebruik wat aanhoudend ry. Dit sal van die ou tolhuis vertrek tot by die eerste stasie sowat 2,4 km verder. Daarvan sal dit na die "saddle" tussen Cradock- en Georgepiek sowat 2 km verder ry.
Kontak is reeds gemaak met twee kabelkarmaatskappye met Switserse/Sweedse verbintennise. Die beplande kapasiteit is 300 mense per uur met 'n maksimum van 400 mense per uur. Belangrik in so 'n stelsel is die weer. Daar is bereken as 50 mense per uur opgeneem word, sal 86 400 mense per jaar die stelsel kan gebruik.
Voorkonstruksiefase
In die stadium word fondse benodig vir die voorkonstruksiefase. Al die vereiste stappe sal gedoen word soos byvoorbeeld 'n omgewingsimpakstudie en 'n openbare deelname proses. Daar sal gepoog word om so min as moontlik voetspore op die berg te laat.
Sover moontlik sal plaaslike maatskappye gebruik word en aanduidings is dat sowat 50 werksgeleenthede in die konstruksiefase geskep sal word en uiteindelik sowat 100 permanente werksgeleenthede.
In die stadium is dit onmoontlik om te sê wanneer konstruksie sal begin.
Alles sal afhang van die beskikbaarheid van fondse en 'n positiewe "record of decision" (ROD). Sou dit die groen lig kry, kan dit vier jaar later in bedryf wees.
Janse van Rensburg het benadruk dat die kabelkarprojek as deel van 'n pakket gesien word. Die gedagte is dat toeriste, benewens die kabelkar, ook byvoorbeeld die Kango-grotte en ander besienswaardighede in die gebied sal besoek.
Charlton Fortuin
IN SHORT
George may yet get its own cable car. A presentation was made at a workshop about the tourism possibilities of the Montagu Pass last week.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'