Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Besoeker wat George binnery, besef gou, hierdie plek is anders – dit lyk anders, dit voel anders.
Dan neem dit 'n rukkie om te besef wat die "anders" is – dit is die ruimtelikheid, wat George sy eiesoortige sin van plek gee.
Met Yorkstraat op is daar die gevoel van wydte, en in die sentrale stadskern is dit opvallend. Weerskante van die breë hoofstraat is daar parkeerterreine, met sakegeboue wat verder terug van die straatkant af sit.
Dit is anders, so heeltemal anders as enige ander stad in die land, waar die verdiepinggeboue wat teen die straat vasgedruk staan meermale die besoeker 'n gevoel van benoudheid en selfs engtevrees gee.
Die wye Yorkstraat is te danke aan die dorpstigters van twee eeue gelede, wat vereis het dat die hoofstraat 200 voet (60 m) wyd moet wees sodat 'n ossewa daarin kon draai.
Kom die besoeker van die oostekant met Knysnaweg, dan is daar eweso die ruimtelikheid, die parklandskap. Dieselfde geld vir die dorpsingang van Oudtshoorn se kant af.
Eintlik is George 'n stadjie, formeel genoem 'n kleinstad, dog daar is geen dominerende gebou nie – hoër geboue soos die munisipale kantoorblok en die Mediclinic sit verder weg van die hoofweg.
Sierlike ou geboue soos die ou stadhuis, die Van Kervelgebou, die witgewel-poskantoor, die museum en die toerismekantoor word nie deur moderne strukture soos die provinsiale "glaskas"-kantoorblok oorheers nie.
Wat beteken dit alles? George het 'n visuele karakter wat ongeëwenaar is, 'n pluspunt wat burgerlike liggame soos die George Erfenistrust koester en bevorder.
Kyk 'n video hieronder.
Gelukkig is daar wyse ontwikkelaars wat hierdie bate raaksien. Een voorbeeld is die historiese gebou op die hoek van York- en Davidsonstraat, waar restaurante tans gehuisves is. Toe die gebou gemoderniseer is, is die fasade en straataansig keurig behou.
Nog 'n voorbeeld is die ou Deacon-huis skuins oorkant die provinsiale hospitaal – 'n pragtig gerestoureerde baken in 'n wye oop parklandskap.
Natuurlik kan sakegeboue ook mooi wees, soos Standard Bank en die Landbank.
George se ruimtelikheid is nie tot die hoof-verkeersare beperk nie, dit is omtrent orals.
Alle woonwyke het oop ruimtes met bome en grasperke, ruim skool- en sportterreine. Ja, die bome – Standerstraat is die langste geelhoutlaan in die land, 2.1 km - en pragtige geelhoute versier ander soos Hopestraat en Victoriastraat.
Georgiete besef dit miskien nie aldag nie: iets wat tot die gevoel van ruimte en oopheid bydra, is die berg, wat 'n mens van byna orals kan sien. Pacaltsdorp het 'n wonderlik wye gesig op die berg.
Wat is die visuele simbool van George as plek? Sekerlik die Moederkerk, waardig in sy groot oop staanplek.
Die oopheid van George gee 'n gewaarwording van rustigheid, van beweegruimte en ordelikheid.
Juis dit is die basiese karaktertrek wat bydra om George so 'n gawe blyplek te maak. Regtig 'n goeie plek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'