GEORGE NUUS - Dit voel soos gister toe Eugene Gunning by ons verslagspan aangesluit het.
Bykans ses jaar van rugbypraatjies, politieke geselsies en staaltjies uit sy dae as verslaggewer in die Parlement het gevolg.
George Herald het verlede Donderdag 25 April van 'n deurwinterde koerantman afskeid geneem. Eugene staan aan die einde van sy 40 jaar lange loopbaan en tree nou af.
Dit is tyd vir nuwe dinge, ander geselsies en lang ente se stap op die strand en in die bos met sy honde.
Tipies Eugene het hy al klaar aangebied om rugby oor die naweek te dek, en 'n politieke gespreksessie Vrydagoggend. Dit voel nog nie of hy weg is nie.
Tog, wanneer ek en my kollegas Maandagoggend hier by die werk instap, en ek loop by die trappe by sy kantoor verby, gaan hy nie daar wees nie. Hy gaan nie die ligte vir ons aanskakel nie.
Ons verslagspan, en eintlik sommer almal van ons hier op die boonste verdieping van die gebou in Ringweg, gaan hom baie mis. Wat sê hy oor sy aftrede?
"Dit het nog nie eintlik ingesink nie, maar dit is tyd."
Ons groet jou Eugene, mooi loop. Om jou eie woorde te gebruik: Enkosi kumntu wonke. Dankie aan almal.
Lees gerus Eugene se rubriek, Tweede Stem, op die brieweblad wat 'n kykie gee oor 'n kleurvolle loopbaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’