GEORGE NUUS - Die George Erfenistrust wil steeds hê die nuwe heining by die Memoriumstraat-begraafplaas moet verwyder word.
Die heining wat in die verlede al ongelukkigheid by die trust veroorsaak het, het weer ter sprake gekom by die onlangse maandelikse vergadering van die organisasie.
Die twee hekke wat nog nie behoorlik vervang is en die instandhouding van die begraafplaas, het ook ter sprake gekom.
In 2021 het die trust gedenkplate by die begraafplaas opgerig. Daarna het die munisipaliteit 'n heining opgerig. Die trust het toe aangedui dat ofskoon hulle begrip het dat die heining met goeie intensies opgerig is om die grafte te beskerm, is dit onvanpas.
Tydens die onlangse vergadering het die trust sy standpunt herhaal dat die heining verwyder moet word. Dit moet vervang word met 'n meer simpatieke ontwerp wat in ooreenstemming is met die historiese hekke. Dit moet in oorleg in gesprekke met die trust geskied.
Die heining by die begraafplaas.
Die trust het voorts besluit dat daar nou afgestap word van die ongelukkig hantering van die aangeleentheid en voortaan gefokus gaan word op die agteruitgang van die historiese Montagupas.
George-munisipaliteit het by navraag van George Herald gesê luidens die direktoraat gemeenskapsdienste sal die aangeleentheid oor die hek voor die einde Junie gefinaliseer word.
Die trust word genooi om die kantoor van die direktoraat te kontak by 044 802 2900 en te praat met Sivuyile Mtila, senior bestuurder omgewingsdienste.
Die departement het 'n instandhoudingskedule vir die sny van gras op munisipale eiendom.
Dit vind op 'n rotasiebasis elke twee maande plaas. Die departement het geen verdere kommentaar oor die aangeleentheid gelewer nie.
Een van die hekke by die begraafplaas. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’