Meyer se gegiste vat Chenin Blanc 2009 is by die tydskrif Decanter se World Wine Awards as die beste enkel wit kultivar in die wêreld aangewys.
Sy wyn is die enigste van nege Suid-Afrikaanse Decanter-streekswenners wat internasionaal as die beste gekies is.
Meyer, wynmeester van De Heuvel Wynlandgoed buite Tulbagh, het verlede jaar die Chenin Blanc gemaak en teen meer as 10 000 inskrywings van dwarsoor die wêreld meegeding.
Hy is die seun van Jan en Annemarie Meyer van die plaas Uitsig in die Geelhoutboom-omgewing en het sy skoolloopbaan begin by George Voorbereidingskool en Laerskool Outeniqua. Hy het aan die Hoër Landbouskool Oakdale gematrikuleer en sy studies aan die Landbou Kollege Elsenburg voltooi.
Na sy studies het hy ervaring op wynplase in die Napa-vallei in Kalifornië, in die suide van Frankryk en in Nieu-Seeland opgedoen.
Die verkoopsbestuurder van De Heuvel Wynlandgoed, Monia Marthinus, sê Meyer gaan vir die volgende drie maande in Kalifornië werk.
"Ons sien uit daarna dat hy met sy terugkeer sy ervaring benut om ons landgoed na die hoogste sport in die wynindustrie te neem."
Die etiket op die bottel van sy wenwyn lees soos volg:
"Grapes were handpicked from old bush vines and barrel fermented in French oak with wild yeast, allowing minimum interference with nature expressing the unique flavours of one of the country’s finest terroirs, the Swartland.
"A perfectly balanced wine, with a rich yellow colour and aromas that intensify the art of wine making."
.jpg)
Wynmaker en George-boorling Johan Meyer van De Heuvel Wynlandgoed buite Tulbagh het ‘n gesogte internasionale wyntoekenning in Londen gewen.