GEORGE NUUS - Conville Primêr het Vrydagoggend 'n stille protesaksie by die skool gehou.
Die skoolhoof, Sam Crowley, was saam met sy personeel en leerders almal in swart geklee en het gevra dat geweld teen vroue en kinders gestop moet word.
Hulle sluit aan by duisende Suid-Afrikaners wat hul stem dik gemaak het vir die veldtog. Hoërskool George het ook Vrydag 'n protesaksie buite die skool gehou.
Ouers en onderwysers is bekommerd oor hul kinders se veiligheid, op pad en vanaf die skool. Die moontlikheid is groot dat jou buurman of -vrou se seun of dogter ontvoer, seksueel aangerand of dalk vermoor kan word.
Gemeenskappe vra dat daar teruggekeer word na 'Jou kind is my kind, en my kind is jou kind' en so uitkyk vir mekaar se kinders. Almal was dit eens dat hulle gekant is teen enige vorm van geweld en wil dit uit hul woonbuurte en die samelewing hê.
Crowley sê seuns moet vroeg geleer word om vroue te respekteer en hulle nie ongevraagde aandag te gee nie. "Hulle moet hul hande tuis hou," sê hy.
Die kinders wat deelgeneem het aan die stil protesaskie het gevra dat alle geweld moet stop. Sien meer foto's by www.georgeherald.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'