GEORGE NUUS - Die belangrikheid van gemeenskaps-betrokkenheid in die aanspreek van veiligheid is gister, 26 Maart, benadruk tydens 'n werksessie oor gemeenskapsveiligheid wat by die Conville-gemeenskapsaal gehou is.
Die geleentheid is deur verskeie belanghebbendes bygewoon en daar is koppe bymekaargesit oor die pad vorentoe.
Daar is herhaaldelik benadruk wat die belangrike rol van die gemeenskap is. Die konsep gemeenskapsveiligheid-implementeringsplan van die George-munisipaliteit is ook bespreek.
Tydens die geleentheid is spesifiek gefokus op die misdaadsituasie in Thembalethu en Conville. 'n Werksessie met die fokus op Pacaltsdorp, George en Uniondale vind vandag, 27 Maart, ook in die Conville-gemeenskapsaal.
George se burgemeester, Leon van Wyk, het in sy verwelkoming gesê daar moet nou beweeg word na die implementeringsfase. Veiligheid in die gemeenskappe is baie belangrik.
Dawie Adonis, direkteur gemeenskaps-dienste van die George-munisipaliteit, het gesê die vraag is hoe word die gemeenskapsvennote bemagtig. Die forum moet nie net 'n praatgeleentheid wees nie.
Hy het deelnemers aangemoedig om weg te beweeg van 'n benadering om te blameer. Die oplossing lê in die inkoop van gemeenskappe in die aangeleentheid.
Xolani Henge, voorsitter van die Thembalethu GPF, het gesê misdaad is aan die orde van die dag en dit het geen grense nie. Daar moet saamgewerk word in die stryd teen misdaad.
Daar moet onthou word dat kriminele goed georganiseerd is. Ten minste is daar nou 'n punt waarvan af vertrek kan word in die stryd teen misdaad.
Willem Frans, voorsitter van Conville GPF, het gesê dis 'n belangrike samekoms. 'n Duidelike boodskap moet uitgaan dat daar eenheid onder mekaar is.
Dis nodig om vertroue te bou. Daar is hoë misdaadsyfers in die gemeenskappe en die polisie kan die stryd daarteen nie alleen hanteer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’