GEORGE NUUS - Voortdurende geweld wat jong mans in die Conville-woongebied pleeg skep 'n kritieke situasie, maar die gemeenskap is traag om betrokke te raak by pogings om misdaad hok te slaan.
Só sê Rudy Lewis, die gebied se buurtwagvoorsitter. Hy vertel dat hulle twee weke gelede op 'n Vrydag tydens patrollie vyf gevalle in een nag gehad het waar mense gekap en gesteek is.
Die volgende oggend is nog 'n persoon aangerand. "Ons vermoed dis dieselfde ouens wat dit herhaaldelik doen. Hulle kom uit ander areas. Ons kinders in Conville raak bevriend met jeug in ander woonbuurte. Hulle sluit dan bymekaar aan op sekere punte in die woongebied en dan begin hulle met hul rooftogte.
"Ons as buurtwag doen ons bes, maar as ons werklik hierdie optrede in ons woonbuurt wil stuit, moet ons baie meer betrokkenheid van die gemeenskap kry. Die huidige lede is te min om die gebied effektief te patrolleer. Ons kan misdaad nie op ons eie bekamp nie."
Die buurtwaglede het in die afgelope twee weke weer verskeie selfgemaakte en ander wapens gekonfiskeer. Hulle hou 'n register by van die plek, tyd en persoon se identiteit van wie dit afgeneem word. Die wapens word dan by die polisie ingehandig.
Volgens Nicolas Joseph, voorsitter van Sektor 2 (Conville) se misdaadvoor-komingsforum en voorsitter van die beheerraad van Conville Primêr, is die probleem dat die ouers van die kinders nie by die buurtwag betrokke wil raak nie, want hul kinders neem deel aan die diefstal en rowery.
"Daar is ouers wat nie hul kinders bevraagteken wanneer hulle by die huis aankom met flat screens en ander duur items nie. Dit terwyl hulle weet hulle kinders werk nie en kan dit nie bekostig nie."
Mandela Boulevard 'n brandpunt
Lewis sê Mandela Boulevard is 'n gebied waar baie weerlose mense ook helder oordag beroof word. "Ou mense word van hul sakkie kruideniersware beroof wanneer hulle van die winkels af kom. Winkeleienaars wat voorrade by verskaffers in Mandela Boulevard aankoop, se goed word van die voertuie af gesteel wanneer hulle by 'n stopstraat of verkeerslig stop.
"Sommige spazawinkels skep 'n mark vir gesteelde goedere deur dit by die rowers aan te koop vir 'n appel en 'n ei. Skoolkinders in ons buurt word van hul selfone beroof. Mense moet op hulle hoede wees. Stap eerder in groepe wanneer inkopies gedoen word. Leerders moenie openlik met hul selfone besig wees terwyl hulle op straat stap nie."
Raak betrokke
Joseph sê die gemeenskap moet 'n kultuur aanneem waar kinders deur die gemeenskap opgevoed en beskerm word. "Ouers moet begin dink in die lyn van 'my kind is jou kind en jou kind is my kind'.
Ouers stuur hulle kinders alleen winkel toe waar misdadigers op winkelstoepe staan en hulle beroof die kinders wanneer hulle uitkom. Spazawinkels moet hierdie stoepstaners wegjaag en as hulle nie wil gaan nie, moet hulle die polisie bel. Mense moet betrokke raak, maar is onwillig."
Die Conville-buurtwag neem gereeld selfgemaakte wapens, messe en byle af wanneer hulle die strate patrolleer.
Alkoholmisbruik
Lewis sê alkoholmisbruik is een van die grootste oorsake van gewelddadige optrede. Inwoners skep ook geleenthede vir misdadigers. "Hulle drink hulleself dronk in 'n taverne en stap dan alleen huis toe. Mense moet eerder in groepe beweeg en wegbly uit donker en geïsoleerde plekke.
"Daar is groepe misdadigers wat ook in die week gedurende die nag aktief is wat gevaarlike honde in hul rooftogte en inbrake gebruik. Die gemeenskap moet bewus wees hiervan en op die uitkyk wees vir hulle. Ons as buurtwag is besig om strategiese planne uit te werk om hierdie elemente hok te slaan, maar het die gemeenskap se samewerking nodig."
Die buurtwag word gedurende patrollies ondersteun deur Fidelity, ADT, LVDS, National Chubb en Pangela en geniet ook steun van Conville Primêr se hoof, Sam Crowley. "Ons het oplossings en ook medewerkers wat bereid is om te help, maar veiligheid is almal in die gemeenskap se verantwoordelikheid. Ons wil meer groepe op patrollies uitstuur, maar het vrywilligers nodig. Die polisie is ook vir ons van hulp," het Lewis gesê.
Die buurtwag doen 'n beroep op besighede vir die borg van tweerigtingradio's. "Van die persone wat kom help patrolleer, het nie lugtyd of data nie en dit bemoeilik ons taak geweldig. Tweerigtingradio's sal ons hande baie versterk," sê Lewis.
Mense wat belangstel om deel te wees van die buurtwag, kan Lewis bel by 061 977 6098.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'