Die mans, wat vermoedelik lede van die 28-tronke-bende is, het verskeie hangende sake en/of vorige veroordelings. Ontstoke inwoners van Borcherds, waaronder Georgespeaker, Mercia Draghoender, het die afgelope week na die George-landdroshof waar die verdagtes (ook van Borcherds) verskyn het, opgeruk.
Ashley Harker (28) is Donderdag-aand omstreeks 18:55 in Spandielstraat beroof en in die bors gesteek. Hy is op die toneel dood. Roderick Agulhus (22) en Benjamin Solomons (29) het Maandag in die C-hof voor landdros Emma Morolo vir Harker se moord verskyn. Hulle saak is tot vandag (14 November) vir 'n borgaansoek uitgestel. Beide het vir regshulp aansoek gedoen.
Nog 'n verdagte, Jeremy Jacobs (in sy vroeë 20), het Dinsdag in dieselfde hof op twee aanklagte van roof verskyn. Een van die klagtes hou vermoedelik verband met Harker se moord en sy saak is tot 22 November uitgestel.
In die tweede moord is Riaan Gelant (25) van Versveldstraat, Borcherds, Saterdagnag van sy leerbaadjie en selfoon beroof. Gelant is verskeie kere in die rug en bors gesteek. Volgens sy swaer, Edenfm-omroeper, Christo Gawie, was Gelant vanaf 'n partytjie op pad om 'n vriend weg te bring, toe hy op die hoek van Garcia- en Andersonstraat aangeval is. "Ek het saam met die polisie van Saterdagnag tot Sondagoggend na die verdagtes gesoek, nadat omstanders gesê het hulle weet wie Riaan ge-steek het," sê Gawie.
Deurnag-soektogte is in Borcherds, Lawaaikamp, Thembalethu en Edenpark in Pacaltsdorp gedoen, waartydens vier verdagtes aangekeer is. Dinsdag het slegs twee verdagtes, Winston Jacobs (23) en Bongani Tanga (ook in sy 20's) in die hof vir Gelant se moord verskyn. Hul saak is uitgestel tot 22 November sodat hulle 'n prokureur kan aanstel.
Woedende inwoners het ná Dinsdag se hofverringtinge gedreig om reg in eie hande te neem, omdat net Jacobs en Tanga vir Gelant se moord vervolg word. Hulle meen die res van die roofbende wat vrygelaat is, moet ook vervolg word.
"Die kinders dink niks om ons vroumense en kinders te beroof nie. Hulle roof al hóé lank met messe, nou is dit nie meer genoeg nie, hulle moor nou. Ons ken hulle almal en is nou mooi gatvol omdat hulle maak nes hulle wil. Ons gaan ons strate terugneem," het een inwoner gesê.
Inwoners het ook gedreig om dié wat vrygelaat is, op te spoor en "self uit te sort".
'n Gemeenskapsvergadering met die polisie is Dinsdagaand by die laerskool in Borcherds gehou.
Van links: Raadslid Bellie Cornelius, George-speaker Mercia Draghoender en Edenfm-omroeper Christo Gawie, het Maandag en Dinsdag saam met ontstoke inwoners van Borcherds by die George-landdros opgeruk om seker te maak die vier verdagtes in twee afsonderlike moorde wat in Borcherds plaasgevind het, kry nie borgtog nie. Inwoners beweer die roofbende, wat glo lede van die 28-tronke-bende is, voer al maande 'n skrikbewind in die area. Foto: Lizette da Silva
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'