Update
GEORGE NUUS - Rooies, of te wel Tiger, die hond wat homself in Mei vanjaar by die George-PDSA ingeboek het, se eienaar is opgespoor en die vierpotige familielid is veilig tuis by sy huis in Rosemoor.
"Ons is vreeslik gelukkig dat Tiger by die huis is. Ons het hom baie gemis en oral na hom gesoek," vertel Tiger se eienaar, Freddy Steynberg.
Volgens George-PDSA se bestuurder, Moira Gibbs, het Tiger se eienaar hom kom eis ná hy die storie oor sy verlore hond in George Herald gelees het.
Steynberg sê een van sy vriende was op pad om vir Tiger na die PDSA te vat vir inspuitings toe drie mans met Amerikaanse veghonde hulle oorval en beroof het. Tiger het die pad gevat en só homself by die PDSA bevind.
Dit was daar waar Hayley Kayser van die York High Animal Club vir Tiger op die bankie in die wagkamer gesien het.
"Terwyl ek in die wagkamer by die PDSA gesit het, het ek 'n hond opgemerk wat alleen in die ry op die bankie lê. Ons het rondgevra na sy eienaar, maar hy was stoksielalleen," vertel sy.
Kayser, wat baie nou saam met die PDSA werk, was toevallig dié dag, Maandag 9 Mei, daar om vir 'n ander hond mediese behandeling te kry toe sy Tiger sien.
"Na die eienaar bewyse gebring het dat dit wel sy hond is, het ons 'n huisinspeksie gaan doen. Tiger is ook gesteriliseer, ontwurm en behandel vir brandsiek. Almal was uit hul nate met Tiger se tuiskoms. Ons is bly die storie het 'n gelukkige einde," sê Kayser.
Kayser doen 'n beroep op die inwoners van George vir kos vir Tiger. Kos kan by York High Animal Club se houer by Pet and Pool in George afgegee word met Tiger se naam op. Sy sal dit dan aan sy eienaar besorg.
Vorige artikel: Rooies die hond wag vir sy dag
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'