GEORGE NUUS - Christen- en gemeenskapsleiers van George het verlede Vrydag, 28 Junie, vergader om saam te besin oor die pad vorentoe en om mekaar beter te leer ken. Die vergadering het by Marshmallow Café plaasgevind en is deur 81 belanghebbendes bygewoon. Dit is aangebied onder die vaandel van Business Café en Heartlines.
Dit was 'n voortvloeisel van 'n werksessie wat op 22 Mei gehou is. Daardie geleentheid is deur 49 belanghebbendes bygewoon, en daar is tot die gevolgtrekking gekom dat George ingryping nodig het oor verskeie brandpunte.
Hierdie kwessies sluit in gebroke families, verdeling tussen rasgroepe, vennootskappe in die Christelike gemeenskap, en morele verval.
Daar is besluit om 'n opvolggeleentheid te reël, wat verlede Vrydag plaasgevind het.Dr. Dennis Farrell, een van die organiseerders, het Dinsdag 2 Julie gesê die verdelings in gemeenskappe het wantroue geskep.
Volgens hom het 85,3% van die bevolking in die 2022 nasionale sensus aangedui dat hulle betrokke is by die Christelike geloof.
As gekyk word na die maatskaplike en morele verval in Suid-Afrika, wat al deur sommige beskryf is as die mees ongelyke samelewing in die wêreld, is dit duidelik dat die Christelike waardes nie weerspieël word in die land se gemeenskappe nie.
Tydens die onlangse ramp in George is egter gewys dat mense kan saamstaan en mekaar kan help in ‘n humanitêre krisis.
By verlede Vrydag se geleentheid is tot bepaalde slotsomme gekom. Dit sluit in:
• ’n Gebrek aan ‘n visie vir die jeug
• Maatskaplike verdeeldheid en
• Rassisme en morele verval.
Farrel het gesê daar sal nog ‘n opvolggeleentheid plaasvind en ook ‘n uitreiking na ander Christelik gebaseerde leiers sodat die maatskaplike uitdagings wat ‘n hindernis in gemeenskappe is aangespreek word.
Olefile Masangane, een van die organiseerders, het gesê: "Vrydag was ‘n waterskeidings oomblik. Dit was nuttig. Dit was ‘n geleentheid om mense bymekaar te bring op ‘n diep persoonlike vlak. Elke stad of dorp in Suid-Afrika het dit nodig. Stede is nie geboue en motors nie. Stede is mense en dit kan nie geïgnoreer word nie."
Past. Johan du Toit van die Nuwe Lewe Bedieninge, wat die geleentheid bygewoon het, het gesê dis nodig dat geestelike leiers bymekaar kom en mekaar leer ken.
"Dit was ‘n geleentheid om om ‘n tafel te sit en mekaar te leer ken. ‘n Opvolgvergadering kan help dat die geestelike leiers ‘n sterk band en eenheid vorm."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’