GEORGE NUUS - Daar is op die oomblik geen vooruitsig vir skaatsplankryers in George nie. Dit is die amptelike kommentaar van die George-munisipaliteit, na vele navrae van lesers oor wat van die oop spasie gaan word waar die Skatelab was.
Charles Lubbe, die waarnemende direkteur van beplanning en ontwikkeling, sê die munisipaliteit is in die proses om die park reg te maak vir munisipale dienste.
"Daar kan dus geen voorstelle van enige sportklubs vir die doel vir die spasie ingedien word nie," sê Lubbe.
Hy sê daar kan egter soortgelyke voorstelle ingedien word vir ander oop spasies om skaatsplankryers te akkommodeer.
Lubbe sê ook mense moet dit nie verkeerd verstaan nie. Die privaat huurder van die park het afgetree en dit is hoekom die park gesluit het, nie omdat die munisipaliteit glo nie die huurkontrak wou verleng nie.
Lesers wou by die George Herald weet wat van die oop spasie gaan word waar die park was.
Baie lesers het ook gevoel kinders en selfs die ouer geslag wat steeds jonk van gees is en skaatsplank wil ry, het nou geen plek waar hulle die sport kan beoefen nie.
Een leser wat die George Herald genader het, meen dis 'n onreg wat die gemeenskap en veral die wat wel die sport beoefen, aangedoen is. In sy skrywe reken hy die munisipaliteit moet van hul kant af 'n park vir skaatsplankryers open, en in 'n veilige area.
Lees 'n vorige artikel: Skatelab closing down
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'