GEORGE NUUS - Pacaltsdorp-polisie is weereens ingespan om huurders die trekpas te gee. Knap ná 'n voorval in Seaview, Sondag 13 Julie, is nog 'n vrou verlede naweek bykans haar huurhuis kwyt.
Volgens die huurder is die polisie ingespan om haarself, haar bejaarde ma en twee dogters in Kanferstraat, New Dawn Park, vir 'n vierde keer die jaar te besoek.
"Kort nadat die polisie by ons was het die vrou, wat glo die huis gekoop het, by ons opgedaag met 'n Amerikaanse veghond (pit bull). Ons het twee klein hondjies. Dit was 'n aaklige storie," sê die vrou, wat 'n paar dae tevore haar wasgoedlyn en motorhek in die straat moes optel nadat twee mans dit in opdrag van die "nuwe eienaar" verwyder het.
"Ek moes self betaal om dit weer terug te sit," sê die huurder. Volgens die huurder wou Pacaltsdorp-polisie nie haar saak opneem nie.
Sy het glo ook vroeër vanjaar 'n besoek van 'n speurder van Thembalethu-polisie ontvang. Volgens haar, 'n vriend van diegene wat haar uit die huis wil hê.
Soos met die voorval by Seaview, is daar natuurlik twee kante van 'n storie. Ongelukkig kon George Herald weereens nie die verhuurder bereik nie.
Die feit bly staan dat al gee huurders hoeveel probleme, die regte prosedures moet gevolg word om van hulle ontslae te raak. In beide gevalle blyk dit dat geen uitsettingsbevele van die hof bekom is nie.
Alle medianavrae is onder die aandag van die Pacaltsdorp-stasiebestuur gebring. "Die genoemde persone word aangemoedig om die stasiebevelvoerder te nader sodat hul sake ondersoek kan word deur 'n amptelike klag in te dien," luidens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies.
"'n Aantal klagtes is hanteer na aanleiding van geskille tussen verhuurders en huurders in die onlangse verlede," sê Spies.
"Dit bly die polisie se verantwoordelikheid om op klagtes te reageer, sodra dit aangemeld is. Polisielede is egter nie gemagtig om deel te neem aan onwettige uitsettings nie. Verhuurders moet verseker dat die wetlike prosedures gevolg word voor enige uitsetting, andersins kan huurders strafregtelike stappe teen die verhuurder of betrokke individue instel."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’