GEORGE NUUS - Die vier jong mans wat van die moord op Gershwin Verlaat (22) aangekla word, het Dinsdagmiddag, 13 Februarie tydens hul borgtogaansoek self agter die getuiebank ingeskuif.
Nie een van die vier beskuldigdes Charldon Heynes (21), Marlen Willeman (19), Kesharne Mostert (21) en Brenton Pato (27) wou egter die meriete van die saak bespreek nie.
Almal het ook aangedui dat hulle onskuldig gaan pleit.
Verlaat se liggaam is op 2 Desember in Rosedale gevind. Hy het ernstige kopwonde gehad.
Dié aanval was klaarblyklik 'n wraakaanval na Pato se broer, Johnwin (19), omstreeks 01:00 die vorige nag naby sy huis doodgesteek is.
Brenton is blykbaar die oggend tydens die beweerde wraakaanval op Verlaat met 'n panga raakgekap. Hy is die Sondagaand na die voorval waarin Verlaat gesterf het, met 'n ernstige kopbesering na die Groote Schuur-hospitaal geneem.
In sy getuienis sê Pato dat hy sy kopwond opgedoen het terwyl twee van sy vriende in 'n argument betrokke was en hy tussenbeide wou tree. "Ek was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd," het hy aan die hof gesê.
Moord met voorbedagte rade
Volgens die ondersoekbeampte, konst. Alvireo August, het Pato op sy broer se moordtoneel aan die polisie genoem dat hy die moordenaars gaan soek.
Verlaat se liggaam is omstreeks 07:30 die volgende oggend met vyf wonde in sy kop gevind.
Verlaat en 'n ooggetuie was die oggend van die aanval onderweg na 'n plaaslike winkel toe die vier verdagtes hulle na bewering met wapens, waaronder 'n panga, aanval.
Die ooggetuie het te voet gevlug. Heyns en Willeman is naby aan die moordtoneel in hegtenis geneem.
Mostert is later by 'n huis in Pacaltsdorp in hegtenis geneem en Brenton Pato is by sy huis vasgetrek kort na hy uit die hospitaal ontslaan is in Desember.
Die staat voer aan dat die wraakaanval op Verlaat beplan was en dat dit as moord met voorbedagte rade beskou moet word. Weens die erns van die misdaad is borgtog teengestaan.
Die borgtogaansoek kon weens 'n gebrek aan tyd nie Dinsdag voltooi word nie en uitgestel tot Woensdagoggend.
Al vier verdagtes is egter borgtog geweier omdat die verdediging nie bo alle redelike twyfel kon bewys dat hul vrylating in die belang van geregtigheid sou wees nie.
Stefan Kleynhans verskyn vir die verdediging en Zukile Maqulo vir die staat. Die saak dien voor landdros Phillip Mgwebile.
Lees 'n vorige artikel: Verdagte in hof vir jongman se moord
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'