GEORGE NUUS - Vir die 80-plusser, Ernest Lamprecht, is die pieke van die ongelooflike mooi Outeniquaberg van kindsbeen af 'n uitdaging. "Seker omrede ons plaas aan die voet van die berg geleë was," sê Lamprecht.
"Wanneer mens met die Outeniquapas ry, is daar 'n reeks spitskoppe links en hulle staan bekend as George View, Tolberg en Vensterberg. Vensterberg is so 30 m hoër as Tolberg en kan van die dorp en omgewing gesien word. Toe word ek deur die jonger geslag van die Berg en Dal-voetslaanklub uitgedaag om Tolberg te klim!
"Geen respek vir my amper 82 jare op aarde nie! Maar, op Dinsdag 20 Maart ek het dit gedoen, al was ek op een plek vrek bang."
Lamprecht sê sy hart het byna teen die steil kranse van Skurweberg gaan staan, maar die 360 grade uitsig op Tolberg vanwaar jy George, Oudtshoorn, Mosselbaai, die wye oseaan en veel meer kan sien, maak dit oor en oor die moeite werd.
Lamprecht, 'n veteraanlid van die Berg en Dal-voetslaanklub, het verlede jaar, net duskant sy 81ste verjaarsdag, die George- en Cradockpieke in een dag uitgeklim.
André Roux en Michelle du Toit op die steil hange van Skurweberg.
Cradockpiek is 1 578 m bo seevlak, die hoogste piek in die Outeniquaberge. Georgepiek is 1 337 m.
"Ek was al in totaal agt keer op die twee pieke, maar dit was net die tweede keer dat ek beide op een dag doen," sê Lamprecht.
"Nou bly net Vensterberg oor. Ander dag, miskien..."
Hier kan mens sien hoe die klimmers van die Telkomtoring gekom het. Gondai Moyo Kanyemba en Michelle du Toit (regs) met die pas in die agtergrond.
Van links is Annette de Jager, Lynette du Toit, Gondai Moyo Kanyemba, Michelle du Toit, Lianie Swarts, Eileen van der Merwe en André Roux op die hoogste punt van Tolberg, so 1 240 m bo seevlak. Foto's: Ernest Lamprecht
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'