GEORGE NUUS - Inwoners van Moeggeploeg, ‘n informele nedersetting by Seaview in Pacaltsdorp, het sonkragpanele as skenking van die maatskappy Specialized Solar Systems (SSS) ontvang.
Die idee is om altesaam 73 huishoudings binne die voorsiene toekoms te help, as ‘n volhoubare oplossing vir hierdie agtergeblewe gemeenskap.
Andrew Behrens, die projekbestuurder, het by navraag gesê die SSS kon daarin slaag om 31 huishoudings voor Kersfees met hierdie stelsels toe te rus. Hulle het wel nog hulp vir die oorblywende 42 huishoudings nodig.
Die geskenk van lig
Die George-raad het op 5 Desember die groen lig vir hierdie projek gegee. Geen koste word van die George-munisipaliteit verhaal of verwag nie, en die toerusting word aan die huishoudings geskenk. Dit is dus die eiendom van die eienaar van die plakkershut en hulle kan dit saam met hulle neem indien hulle trek. Hulle hoef ook nie ‘n sent by te dra nie.
Specialized Solar Systems dra self 50% van die koste per huishouding (R1 500), terwyl die oorblywende gedeelte deur privaat-bydraes en instansies soos Victron Energy geborg word. SSS vra die publiek om ook hul gewig agter die projek te sit en ‘n huisgesin met R1 500 te borg.
Arno Menkveld (links) van SSS en Rudy Ruiters, 'n inwoner van Moeggeploeg wat met die installasies help.
Die sonkragstelsels sal basiese beligting en toegang tot krag verskaf, wat ‘n verligting vir hierdie gesinne sal wees. Die sonpanele herlaai die batterye deur die dag, wat krag snags vir gesinne verseker. Inwoners sal opgelei word om die toerusting korrek te gebruik, luidens die raadsitem.
Volgens Behrens is dit die maatskappy se visie om soveel moontlik informele nedersettings met sulke stelsels toe te rus. “Ons het reeds 80 000 landswyd geïnstalleer,” het hy gesê. “In George is daar sowat sestig informele nedersettings, waarvan sommige al meer as 25 jaar vir elektrisiteit wag. Die munisipaliteite het privaat-hulp nodig om die nood te verlig.”
Spesialized Solar Systems se span: agter van links is Zenande Gubeko, Arno Menkveld, Robert Hodgson, Andrew Behrens, Alfons Julies en Tryson Mbale. Voor is Alden Far, Chesein Wessels en Matthew Marks.Moeggeploeg en dienste
Geen plakkerskamp of informele nedersetting is wettig nie, maar die George-munisipaliteit, soos ander munisipaliteite, probeer om inwoners te help met basiese dienste soos waterpunte, toilette en elektrisiteit. Hierdie kragstelsels word aan bestaande kragpunte (transformators) gekoppel.
Danie Greeff, die adjunkdirekteur van elektro-tegniese dienste, skryf in die item aan die raad dat elektrisiteit as ‘n basiese diens beskou word.
“Daar is verskeie gebiede binne die George-munisipale area wat nie enige elektrisiteitstoevoer het nie. Dit lei daartoe dat inwoners hul eie elektrisiteitsverbindings bekom deur middel van onwettige verbindings op die munisipale netwerk of 'n verbinding met 'n aangrensende inwoner,” lees die raads-item.
“Dit veroorsaak oorlading van elektrisiteitsnetwerke, onveilige installasies, skade aan elektrisiteitsinfrastruktuur en verhoogde elektrisiteitsverliese.”
Van die 73 wonings in Moeggepoeg is 31 reeds toegerus met sonkrag, en 42 wag nog vir volledige borgskap. Photo: Specialized Solar Systems
‘n Stewige aantal informele nedersettings wat in lyn staan vir die elektrifiseringsprogram word in die raads-item genoem. Moeggeploeg is ook daar, maar die inwoners sou minstens nog vyf jaar moes wag omdat hulle nie onder die oudste informele nedersettings is nie. Ander, wat al langer wag, sal voorkeur kry, luidens die munisipaliteit se stelsel om mense te help.
Om al die informele nedersettings te elektrifiseer wat krag benodig, sal sowat R50 miljoen kos. Elke jaar word ‘n sekere bedrag begroot om van die areas te help. Hierdie projek van SSS is dus van groot hulp omdat dit die druk op die munisipaliteit verlig. Dit hou geen risiko vir die munisipaliteit in nie.
Vir meer inligting kontak SSS by 044 878 1126 of besoek die webblad by www.specializedsolarsystems.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’