GEORGE NUUS - Kinderfietse wat volgens die leier van die Patriotic Alliance (PA), Gayton McKenzie, bestem was vir 'n toekomstige fietsrybaan in Borcherds is verlede week by Heidedal Primêr in dieselfde woonbuurt afgelaai. Dit volg kort op die hakke van 'n afkondiging dat Christo Alexander, die PA se wyksraadslid vir die gebied, uit die party bedank het.
Die fietse is vir maande by die FTO (Faith and Trust Outreach) Family Church in Borcherds gestoor, waar Alexander as senior pastoor die gemeenskap dien. Die gemeenskap het op sosiale media kommentaar gelewer oor die skuif van die fietse en gespekuleer oor die rede daarvoor.
Volgens die PA se streekleier, Derick Petersen, is die kinderfietse aan Heidedal Primêr in Borcherds geskenk sodat die kinders die volle voordeel daaruit kan trek.
Die skoolhoof, Dudley Schoeman, het bevestig dat sowat 14 fietse verlede Woensdag aan die skool deur die PA geskenk is. Hy het gesê die beheerliggaam moet nog koppe bymekaarsit oor hoe die fietse vir aktiwiteite ingespan sal word om die kinders se veiligheid te verseker.
Oukersaand-drama
Dié einste fietse het einde verlede jaar vir drama gesorg toe McKenzie en PA-lede op Oukersaand die fietse tydens 'n Kerspartytjie aan kinders van Borcherds uitgedeel het. Die kinders het saam met McKenzie en PA-lede vir foto's geposeer, waarna die fietse teruggeneem is.
'n Foto wat einde verlede jaar op Facebook verskyn het, met die fietse wat PA-leier Gayton McKenzie aan kinders van Borcherds uitgedeel het, en weer terug- geneem het.
Die voorval is deur baie as 'n publisiteits-foefie beskou. Ouers het hul skok en verbasing hieroor uitgespreek.
Die PA se verduideliking destyds was dat die fietse vir 'n fietsrybaan bestem is, wat nog in die pyplyn is. Die fietse is ook sonder valhelms uitgedeel, wat glo 'n veiligheidsrisiko was, en is aangevoer as een van die redes waarom die fietse teruggeneem is. Daar is aan die kinders gesê dit is "almal se fietse".
McKenzie sou van buurt na buurt beweeg en fietse aan almal uitdeel, met Parkdene volgende op die lys.
Volgens 'n inwoner en vurige DA-ondersteuner, Sandra Maart, het daar egter dadels van gekom.
"Hy was vas in die hok, en wou net vure blus," het sy gesê. Maart se buurvrou, Esmerelda Booysen, was self baie uitgesproke oor die saak nadat haar eie seun 'n fiets ontvang het wat hy weer moes teruggee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’