GEORGE NUUS - As jy soos baie ander inwoners voel oor instruksies, formules en sperdatums, het jy heel waarskynlik nog nie jou voorafbetaalde kragmeterboks oorgeskakel na die nuwe sisteem nie.
Hierdie is nou jou laaste waarskuwing, al die pad van Eskom.
Pons die volgende nommer in jou meterboks en kyk of jy 'n 1 of 'n 2 in die venstertjie sien. As dit 'n 2 is, is jy veilig. As dit 'n 1 is, moet jy nou werk maak daarvan.
As die klok komende Sondagaand middernag slaan en Maandag 25 November aanbreek, sal alle voorafbetaalde kragmeterbokse oorgaan na 'n nuwe sagtewaresisteem.
En as jou boks nie voor daardie oomblik aangepas is nie, gaan jy 'n splinternuwe boks en sagteware moet koop - uit jou eie sak. Ons praat van derduisende rande.
Diegene in George wat nie tuis is nie, miskien met vakansie, kan Alegro Instandhouding kontak vir hulp (083 557 4045), mits hulle hul meternommers by hulle het.
As jy wel by die huis is, is die nommer wat jy sommer vandag nog in jou meterboks moet druk, as volg: 1844 6744 0738 4377 2416.
Tik dit in en bid vir 'n 2, maar as daar wel 'n 1 op die skerm verskyn, vertel ons jou nou wat om te doen.
So maak mens:
- Maak seker alle vorige kragaankope is klaar ingepons sodat jy die eenhede kan benut voordat jy oorskakel na die nuwe sisteem. Vorige kragaankope gaan nie werk nadat jy op die nuwe sisteem is nie.
- Koop krag by 'n geakrediteerde plek, sodat jy 'n fisiese strokie kan kry. Moenie krag met jou foon koop nie.
- Druk die eerste 20-syfer kode (key change token 1) in van die herkoderingstrokie.
- Druk die tweede 20-syfer kode (key change token 2) in van die herkoderingstrokie.
- Druk die 20-syfer kode vir jou kragaankope (purchase token) in.
Indien jy sukkel om krag te koop of die aankope wil nie registreer wanneer jy die kodes indruk nie, is dit moontlik dat jou kragboks nog nie geregistreer is nie.
Jy gaan dan jou kragboks moet registreer by Alfred the chatbot hier.
Mag jy van krag tot krag gaan sonder enige skokke!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’