Update
GEORGE NUUS - Gaan die gewilde Outeniqua Wheelchair Challenge (OCC) weer in Februarie in George aangebied word? Dit is die vraag wat vandag (Vrydag 11 Januarie) gevra word. Verskeie navrae oor die aanbied van die geleentheid vanjaar, is reeds van belangstellendes ontvang. Kommer bestaan, dat as dit wel aangebied word, alles nie betyds gereed sal wees nie. Deelnemers – talle buitelanders en hul helpers - moet reis- en verblyfreëlings tref.
In die stadium swyg die George-munisipaliteit. 'n Woordvoerder van die munisipaliteit het by navraag bloot gesê 'n aankondiging sal "binnekort" gemaak word. Die George-munisipaliteit is een van die groot rolspelers in die aanbieding van die geleentheid. Betroubaar is egter verneem dat dit na alle waarskynlikheid wel sal plaasvind, maar George sal nie gras onder sy voete kan laat groei nie, want talle ander stede of dorpe wil graag die gewilde wedren aanbied.
Die OCC is verlede jaar die 16de keer in George gehou en die afgelope paar jaar onder die vaandel van die Disabled Road Race Foundation (DRRF). Dit lok deelnemers van regoor Suid-Afrika en die buiteland.
Verlede jaar het meer as 1 000 gestremde atlete deelgeneem aan die geleentheid wat by Halfway Toyota naby die Garden Route Mall gehou is. Die internasionale sportster, Ernst van Dyk, het al verskeie kere al daaraan deelgeneem.
Dit word gewoonlik in die tweede helfte van Februarie gehou en is een van die gewildste geleenthede op die George-kalender. Dit lok duisende mense en is 'n inspuiting vir die plaaslike ekonomie. Die geleentheid kry gewoonlik ook baie mediadekking en het waardvolle bemarkingswaarde plaaslik, nasionaal en selfs internasionaal.
Die George Herald het vasgestel dat die DRRF nie vanjaar by die reëlings betrokke is nie. Dit is deur Alewijn Dippenaar, voorsitter van die DRRF, bevestig.
Hy het die afgelope tyd verskeie navrae van mense ontvang wat hulle reëlings vir die OCC wil tref. "Ek ontvang byna daagliks navrae."
Volgens hom het die organisasie verlede jaar in Junie/Julie voorstelle aan die munisipaliteit gestuur vir die aanbieding in 2019.
Die organisasie het niks gehoor nie en hy het verskeie kere navraag gedoen. In November het hy 'n brief van die munisipaliteit ontvang. Hy is toe meegedeel dat die munisipaliteit besluit het om die geleentheid in 2019 self aan te bied.
Hy het benadruk dat die DRRF 100% verbind is om saam te werk in die aanbieding van vanjaar se geleenheid. "Die bal is nou in die munisipaliteit se hande."
George Herald poog ook om met die hoofborg van die OCC, Airports Company of South Africa of te wel ACSA, George kontak te maak en sal ACSA se kommentaar plaas sodra dit ontvang word.
Lees 'n vorige artikel: Aankondiging oor OCC dalk volgende week
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'