GEORGE NUUS - Die Franse regering het tussen 30 000 en 60 000 euro bewillig (dit is teen huidige wisselkoerse tussen sowat R4,9 miljoen en R9,8 miljoen) vir navorsing om onder meer te kyk na die moontlikheid van golfenergie (wave-energy) langs die kuslyn in die Tuinroete.
Die aankondiging is deur Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, gemaak tydens 'n onlangse beraad oor klimaatsverandering in Wilderness. Die beraad is onder die vaandel van die distriksmunisipaliteit en die Garden Route Environmental Forum aangebied.
Booysen het gesê die geld sal aangewend word vir navorsing oor byvoorbeeld golfenergie en die voorkoming van kuserosie. Dit sal die gebied dek wat onder die distriksmunisipaliteit val en strek van Plettenbergbaai in die ooste tot by Stilbaai in die weste.
Die distriksmunisipaliteit het in beginsel reeds ingestem en die studie is veronderstel om binnekort te begin.
Hy het daarop gewys dat die distriksmunisipaliteit al in die verlede aangedui het dat hy belangstel in windkrag, golfenergie en sonkrag. Dit vorm deel van die distriksmunisipaliteit se planne vir groenenergie. Die distriksmunisipaliteit is ook besig om 'n meesterplan vir energie vir die hele Tuinroete op te stel. "Ons is baie opgewonde oor die studie wat gedoen gaan word."
Volgens hom is hy bewus daarvan dat daar ook ander sieninge oor die aangeleentheid in die gebied is en die distriksmunisipaliteit sal daarna kyk.
Hy het benadruk dat geen finale besluit nog geneem is nie en dat die studie sal wys wat die pad vorentoe is.
Tydens die beraad is die moontlikheid ook geopper dat indringerplante in die gebied bymekaar gemaak word en dan verbrand word vir energie doeleindes. Dit sal onder meer by die distriksmunisipaliteit se streekafval-stortingsterrein naby Mosselbaai kan plaasvind. Die plan is ook om mobiele eenhede in die streek vir die doeleindes te vestig as gevolg van logistieke uitdagings met afstande.
Ook in die verband is geen finale besluit nog geneem nie. "Dit vorm alles deel van die distriksmunisipaliteit se planne om groenenergie in die streek te genereer."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'