Update
HEROLD NUUS - Gemoedere het hoog geloop tydens 'n vergadering Sondag 13 Januarie by Franken VGK Primêr op Herold. Hier het gerugte dat die skool dalk gaan sluit die gemeenskap en ouers rooi laat sien. Hulle wou onmiddellik antwoorde hê van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), die skool en die kerk.
Bekommerde ouers wou weet hoekom hulle laaste moes uitvind dat die plaaslike skool sou sluit of dalk verkoop gaan word. Blykbaar was die nuus dat die skool kan sluit of dalk verkoop gaan word op radio en oral op sosiale media waar dit die wind van voor gekry het.
Koos Eksteen, 'n kringbestuurder van die WKOD, het die vergadering bygewoon en die mense verseker dat die skool nie gaan sluit nie. "Die kontrak tussen ons en die kerk het verval en moet weer hernu word. Maar ons wag om van die kerkraad te hoor."
Ds. David Elias, die geestelike leier van die kerk, sê daar was probleme wat hulle by die departement aangemeld het. Elias meen die probleme moet uitgesorteer word voor die nuwe kontrak geteken word. Hy was egter bekommerd oor haatspraak teen die kerk. Blykbaar was daar mense wat gesê het hulle gaan die kerk afbrand as die skool moet sluit.
Elias het ook die gemeenskap verseker dat die departement eerste opsie het om die skool te koop as dit sou gebeur, maar dat dit nie hul intensie is om die skool te sluit nie. Dit is deur Eksteen bevestig. "Tot die kontrak geteken is bly die kinders in die skool. Franken gaan nie sluit nie."
Basil Myners van BM Skills Developement het Sondag die vergadering namens die Instituut vir geregtigheid en versoening gefasiliteer. Volgens hom moes hulle alle rolspelers bymekaarkry om agter die kap van die byl te kom.
Theo Adams, die nuwe eienaar van die grond langs die skool, deel sy mening met die groep.
Myners sê hulle moes dit spoedig doen omdat daar reeds verlede Woensdag 'n woordewisseling tussen ouers en die skool was. Van die kwellinge wat ondermeer bespreek is, was die veiligheid van die leerders wat oor die pad moet loop omdat die skoolbusse nie meer langs skool kon parkeer nie, die krag wat afgesit is, die nuwe eienaar van die grond langs die skool en hoekom die twee skole op Herold nie kan saamsmelt nie.
Die nuwe eienaar van die grond langs die skool, Theo Adams, het ook Sondag die vergadering bygewoon en was van alle kante aangeval. Mense het hom uitgejou en gesê hy het geen sê daar nie omdat hy nie 'n inwoner is nie.
Adams op sy beurt het gesê hy wil graag die grond ontwikkel maar kan dit nie doen as die skoolbusse daar parkeer nie. Hy het ook genoem dat hy al telkemale skrywes aan die departement gerig rondom rioolwater en vuilkombuiswater wat van die skool af op sy grond loop. Hy is dus bereid om rondom 'n tafel te sit en dinge te bespreek. Ook sou Adams die gemeenskap en skool tegemoet kom en tydelik die pale verwyder wat hy opgesit het. Dit het verhoed dat skoolbusse langs die skool parkeer.
Myners sê hulle sou hul eerste vergadering gister, Woensdag 16 Januarie, by die skool gehou het.
Koos Eksteen 'n WKOD-kringbestuurder het die ouers belowe dat die departement nie die skool gaan sluit nie. Volgens hom wag hulle vir 'n nuwe kontrak wat geteken moet word.
Lees 'n vorige artikel: Gerugte dat skool sluit, ouers kwaad
'Ons bring jou die nuutste Herold, Tuinroete nuus'