GEORGE NUUS - Enige soort elektrisiteit-‘onderskepping’, maak nie saak hoe klein of onskuldig dit lyk nie, is onwettig en gevaarlik.
Of jy nou 'n stroombreker omseil om 'n ekstra verlengingskoord te voer of jou eie draad aan 'n elektriese boks koppel, onwettige verbindings veroorsaak meer moeilikheid as wat jy weet.
Wat word as 'n onwettige verbinding beskou?
'n Onwettige verbinding is enige elektriese bedrading, apparaat of toerusting wat op enige wyse aan die munisipale elektriese netwerk gekoppel is om toegang tot elektrisiteit te verkry sonder toestemming en/of betaling.
Dodelik
Daar is geen tweede kanse met elektrisiteit nie. Onwettig gekoppelde drade het oor die algemeen nie aardlek-eenhede om jou teen ’n elektriese skok te beskerm nie – dus, as jy geskok word, sal jy sterf of ernstig beseer word.
Kinders en diere sal heel waarskynlik op drade afkom wat oor paaie en vlak slote lê en sal heel moontlik doodgaan as hulle geskok word.
Vuuraanblaser
Omdat daar gewoonlik geen stroombrekers op onwettige verbindings is nie, sal die drade oorverhit en 'n brand veroorsaak. Elektriese brande is ekstra gevaarlik en moet nie met water geblus word nie, want water gelei elektrisiteit, en jy kan geskok word.
In die donker
Elektriese bokse en toerusting is ontwerp om 'n sekere mate van stroom te hanteer. Onwettige verbindings oorlaai daardie bokse en sal uitskop om die netwerk te beskerm, wat dan ’n hele woonbuurt sonder krag laat.
Die munisipaliteit word ook deur die wet verplig om alle elektriese lyne van onwettige verbindings te verwyder voordat hulle die krag weer mag koppel, wat betalende burgers sonder elektrisiteit laat terwyl die onwettige lyne verwyder word.
Geld sleg bestee
Elektriese toerusting is baie duur. Elke vervanging beteken finansies wat elders in jou gemeenskap bestee kon word.
Jy kan tronk toe gaan
Diefstal van elektrisiteit is ’n kriminele oortreding waarvoor jy tronk toe kan gaan.
Rapporteer
Rapporteer onwettige verbindings by 044 801 9222/044 803 9222 of 044 801 6300 (n/u).
Rapporteer mense wat onwettige verbindings maak by 0860 044 044, SAPD 10111.
Beloning
George-munisipaliteit bied 'n R2 500 beloning aan vir inligting wat lei tot die suksesvolle skuldigbevinding van elektriese diefstal en/of vandalisme in 'n geregshof. Die getuie sal op rekord na die owerhede moet gaan en sy/haar naam en kontakbesonderhede moet gee vir die doel om te getuig, maar sy/haar identiteit sal beskerm word.
Meld aan by 0860 044 044 om vir die beloning in aanmerking te kom.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'