GEORGE NUUS - Twee bekendes in die DA verras met hulle verskyning as deel van dié party se nuwe kiesafdelingsbestuur vir George.
Die oud-George-raadslid Flip de Swardt, is verkies as sekretaris en die voormalige raadslid Marchell Kleynhans, is die bestuur se nuwe voorsitter.
Verteenwoordigers van 25 DA-takke in George het die verkiesing verlede Saterdag (17 Februarie) by die Rosemoor-gemeenskapsaal bygewoon.
De Swardt het sestien jaar op die George-raad gedien waartydens hy onder meer die posisie as burgemeester, onderburgemeester en hoofsweep beklee het.
De Swardt en Kleynhans het saam vir die termyn 2011 tot 2016 as George-raadslede die dorp gedien.
Die res van die bestuur lyk as volg: Regina Windwaai (ondervoorsitter) en Stag Cronjé (finansies).
Die addisionele lede is Peter Louw, Khayakazi Ndwenkuk, Cecil Noble, Ebrahim America, Helen Carelse (DA-vrouevoorsitter) en Grant Sharp, (DA-jeugvoorsitter).
De Swardt het bevestig dat hy deur kollegas genader is om hom beskikbaar te stel vir die posisie as sekretaris.
"Dit is harde werk, en ek die tyd om dit te doen. Ek is nog gesond genoeg om 'n bydrae te lewer.
"Ek was een van die stigterslede van die DA en dit is die party waarvoor ek my lewe lank gewerk het," het hy gesê.
Kleynhans het by navraag gesê hy het De Swardt self genader om homself vir die bestuur beskikbaar te stel.
George-raadslid Mercia Draghoender (agter) en burgemeester Melvin Naik (middel) saam met die nuwe kiesafdelingsbestuurslede (van links): Marchell Kleynhans (voorsitter), Regina Windwaai (ondervoorsitter), Flip de Swardt (sekretaris) en Stag Cronjé (finansies).
"Flip het baie ondervinding en kan nog 'n groot rol speel," het hy gesê.
"Mense besef dit nie altyd nie, maar hy het gehelp om die dinge rustig te hou toe die OD destyds by die DA aangesluit het. Hy het 'n kalmerende invloed."
Volgens die kiesafdelingshoof, Tertuis Simmers, is enige lid van die DA welkom om hul verkiesbaar te stel vir posisies in die DA-strukture.
"Ons respekteer die keuse van die takke wie hul leierskap verkies," het hy gesê.
"Die kiesafdelingsbestuur is 'n politieke liggaam wat 'n oorsig en implementeringsrol speel ten opsigte van alle DA politieke aktiwiteit in die area waarin hulle dien.
"Hulle is verplig om alle hoër strukture se versoeke en programme uit te voer," het hy gesê.
Skuif kom gou
Simmers het bevestig dat hy binnekort, soos versoek deur die DA se federale uitvoerende komitee (Fedex), na 'n ander kiesafdeling in die Eden-distrik verplaas gaan word.
Dit is nog nie bekend watter kiesafdeling aan hom toegeken gaan word nie.
Simmers het egter bevestig dat hy steeds op George sal bly.
"Ek sal steeds George se stem in die provinsiale wetgewer wees," het hy gesê.
"Ek wil van die geleentheid gebruik maak om, na nege jaar se politieke en gemeenskapsdiens aan George, ons gemeenskap en aktiviste te bedank vir hul geloof in my en hul aanvaarding van my as deel van die George-gemeenskap.
"Saam het ons geskiedenis in die 2011-, 2014- en 2016-verkiesings gemaak."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'